8 STAPPE OM JOU KIND SE LEESVAARDIGHEID TE VERBETER

Maandag, 23 April 2018

Deur Afrikaanse Skoolprojekte

Kinders moet kan lees, aangesien dit die basis van skoolonderrig is.

blogImage

In ons blog artikel ‘Byna 80% van Suid-Afrikaanse Graad 4 leerlinge kan nie lees nie’, het ons die problematiese geletterdheidskoers in Suid-Afrika bespreek. Ons moedig jou aan om jou kinders te help met lees. Die voordele van lees is oneindig. Jou kinders se toekoms sal afhang van die vlak van geletterdheid wat hul het. Om te lees moet egter nie vir hul voel soos ’n straf nie. Mary McLeod Bethune het gesê: “Die hele wêreld het vir my oopgegaan toe ek geleer het om te lees.”


Verbeter jou kind se leesvaardighede met hierdie 8 stappe:
1. Lees elke dag.
2. Wat moet my kinders lees?
3. Kies die regte boek.
4. Vermeerder geleidelik die boeke se moeilikheidsgraad.
5. Leer om te stop.
6. Kontroleer jou koers per minuut en oefen om dit te verbeter.
7. Versorg jou oë.
8. Die appel val nie te ver van die boom af nie.


1. Lees elke dag.

Die eerste stap wat jy kan neem om jou kinders se leesvermoëns te verbeter, is om seker te maak hulle lees elke dag. Dit hoef nie vir ure te wees nie, maar ’n goeie 20 - 30 minute sal hul leesvermoëns aansienlik verbeter. Maak lees-tyd deel van hul skedule, byvoorbeeld vroeg in die oggend wanneer daar nog geen afleiding is nie. Andersins, direk na aandete.


2. Wat moet my kinders lees?

Dit is dikwels ’n verwarrende vraag, want ons weet nie aanvanklik op watter lees- en begripsvlak ons kinders is nie. Daarom moet ons alle vorme van literatuur op die proef stel om te sien watter moeilikheidsgraad hulle kan hanteer, wat geniet hulle om te lees en hoe vinnig kan hulle lees. As jou kinders stadige lesers is, begin dan klein, met kort stukke leesmateriaal – soos ’n artikel uit ’n tydskrif, poësie of ’n blog (net soos hierdie). Later kan jy die volume verhoog deur kortverhale en romans.


3. Kies die regte boek.

Die belangrikste aspek van lees is jou kind se belangstelling in die onderwerp. Natuurlik sal hulle nie vroeë Afrikaanse literatuur wil lees as hulle nie in CJ Langenhoven belangstel nie. As hulle egter ’n sportheld het, laat hulle hul biografie lees, of as hulle belangstel in superhero-films, laat hulle die strokiesprente lees. Moenie jou kinders dwing om iets te lees wat hulle nie geniet nie. Maak hul wêreld oop deur hulle al die verskillende soorte boeke te wys wat beskikbaar is. Dit is belangrik om daarop te let dat die korrekte boek versoenbaar moet wees met hul leesvlak en toepaslik is vir hul ouderdom.


4. Vermeerder geleidelik die boeke se moeilikheidsgraad.

Soms wanneer kinders gedwing word om in die klas te lees, word hulle moedeloos omdat die leesstof te moeilik is of hulle nie belangstel in die onderwerp nie en dan te vroeg opgee. Dit is ons werk as ouers om seker te maak dat ons kinders nie agterraak nie. Vra of hulle die voorgeskrewe boeke in die klas kan lees. As hulle nie kan nie, vind boeke wat net effens makliker is. Wanneer jy raaksien, dat hulle meer vertroud is met die leesmateriaal, verhoog dan die pas en moeilikheidsgraad van die boeke.


5. Leer om te stop.

Dit is belangrik om te weet hoe om te lees, maar dit is selfs belangriker om te verstaan wat jy lees. Andersins is dit net ’n string sinnelose woorde. Leer jou kinders wanneer hulle besig is om te lees om elke paar minute te stop om vrae te vra oor wat hulle nou net gelees het. Dit bevorder begrip van die onderwerp en die storielyn. Kinders moet hulself die volgende vrae vra wanneer hulle lees:

  • Wat het ek nou net gelees?
  • Wat is die belangrikste dinge wat in die vorige hoofstuk gebeur het?
  • Het enigiets my verwar?
  • Het enigiets my verras?
  • Is daar dele wat ek nie verstaan het nie?


6. Kontroleer jou koers per minuut en oefen om dit te verbeter.

Die doel is nie altyd om te sien hoe vinnig jou kind kan lees nie. Soos kinders egter ouer word, moet hul totale woorde per minuut proporsioneel verhoog. Doen in die begin van elke kwartaal ’n maklike lees toets. Neem ’n bladsy van ’n boek of artikel en laat jou kind die bladsy lees (nie hardop nie, want dit neem langer om elke woord ten volle uit te spreek). Stel jou stophorlosie vir een minuut en tel dan die aantal woorde wat jou kind in daardie minuut gelees het. Maak seker dat jy vrae oor die teks vra sodat jy weet dat jou kind nie daaroor gejok het nie. Onthou om boek te hou van die hoeveelheid woorde per minuut deur dit in ’n dagboek of joernaal aan te teken. Volgende kwartaal moet jy die toets herhaal. Kyk met hoeveel jou kind se leesvaardighede verbeter het.


7. Versorg jou oë.

Ons visie is een van ons belangrikste sintuie, daarom moet ons ons oë versorg. Weet of jou kind ’n bril benodig of nie, en dat hul lense of kontaklensvoorskrif op datum is. Maak seker dat hulle in beligte plekke lees en dat hulle genoeg voedingstowwe kry om hul oë gesond te hou. Dit sluit voedsel in wat Omega 3, sink, vitamien C en vitamien E bevat.


8. Die appel val nie te ver van die boom af nie.

Die beste wenk om jou kind te help om beter te lees, is om ’n voorbeeld te wees. Lees jy as ouer genoeg? Jou kinders sal meer geneig wees om te lees as hulle sien jy het altyd boeke op jou bedkassie, of dat jy daarvan hou om na ’n tweedehandse boekverkoping te gaan.

Bevorder ’n liefde vir lees in jou kinders deur vir hulle in die aande te lees. Vra vir hulle om ook vir jou te lees. As jy en jou tiener dieselfde boeke geniet, vorm dan ’n klein boekklub waar jul oor die boek en die karakters praat. Marilyn Jager Adams, ’n spesialis in kognisie en skoolonderrig, het die volgende gesê: “Om hardop te lees saam met jou kinders is bekend as die enkele belangrikste aktiwiteit om die kennis en vaardighede op te bou wat hulle uiteindelik sal benodig om te leer lees. Wys vir jou kind dat deur te lees wêrelde vir hulle sal oopgaan en dat om ’n boek te lees een van die beste maniere is om te gaan verken en op nuwe avonture te gaan.


Laat weet ons wat jy en jou kinders tans lees. Wat is die vlak van hul leesvaardighede huidig, en hoe moedig jy jou kinders aan om te lees? Ons sal graag ander ouers se stories wil hoor.

© Kopiereg Afrikaanse Skoolprojekte. Alle regte voorbehou. Alle inligting hierin is die intellektuele eiendom van Afrikaanse Skoolprojekte en is beskerm deur die wet, insluitend maar nie beperk tot kopieregwetgewing nie. Geen inligting mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie. Afrikaanse Skoolprojekte behou verder die reg voor om enige toestemming te onttrek indien ons van mening is dat die gebruiker enige voorwaardes waaronder toestemming gegee is oortree. Uittreksels en skakels mag gebruik word, mits volledige en duidelike krediet aan Afrikaanse Skoolprojekte gegee word, met toepaslike en spesifieke aanduiding na die oorspronklike inhoud. As prente gebruik word, mag ons watermerk nooit afgesny of verwyder word nie. Ons moedig ons lesers aan om ons artikels via e-pos en sosiale media netwerke te deel deur middel van ons skakels. Sien asseblief ons Bepalings en Voorwaardes as jy onseker is oor die gebruik van ons materiaal.

HET JY VAN DIE ARTIKEL GEHOU?

As jy van hierdie artikel gehou het, teken in op ons nuusbrief. Jy sal gratis waardevolle advies en wenke ontvang om jou kinders se akademiese prestasie 'n hupstoot te gee.


LEWER KOMMENTAAR

Ons wil graag hoor wat jy dink. Lewer kommentaar op hierdie artikel.

  • Jou persoonlike kontakbesonderhede sal nie gepubliseer word nie, slegs jou naam.
  • Ons streef daarna om deursigtig te wees. Alle negatiewe resensies of positiewe kritiek sal gepubliseer word.
  • Jou terugvoering sal hersien word vir enige ontoepaslike taalgebruik voordat dit gepubliseer word.

SOORTGELYKE ARTIKELS

3 PRODUKTIEWE MANIERE OM SOSIALE MEDIA IN JOU LEERPLAN AAN TE WEND, SOWEL AS 3 STRUIKELBLOKKE WAARVOOR JY OP DIE UITKYK MOET WEES

Vandag is sosiale media nie net bedoel om oulike kat-video’s te deel nie (alhoewel, dit gebeur dikwe...

Lees

BYNA 80% VAN SUID-AFRIKAANSE GRAAD 4 LEERLINGE KAN NIE LEES NIE

Onlangse bevindings van ’n globale assessering wat deur die Vordering in Internasionale Lees-gelette...

Lees
Terug na blog

Ontwikkeling en Bediening: Resolve Technology Solutions

Ontwerp en SEO: Avelantis

© Kopiereg 2003 - 2024 Afrikaanse Skoolprojekte. All Regte Voorbehou.
Geen inligting of dokument mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie.