4 VOORDELE VAN MUSIEK OP DIE BREIN

Maandag, 06 Augustus 2018

Deur Afrikaanse Skoolprojekte

Om ’n instrument te bespeel is nie net uitstekend om jouself kreatief uit te druk nie, maar verbeter ook jou brein funksies, wat lei tot positiewe uitwerkings op jou lewenskwaliteit.

blogImage

Duits-gebore teoretiese fisikus Albert Einstein het eenkeer gesê: “Die lewe sonder om musiek te speel, is ondenkbaar vir my. Ek leef my dagdrome in musiek uit. Ek sien my lewe in terme van musiek... Ek kry die meeste vreugde in die lewe uit musiek uit.”

Daar mag dalk meer wees tot hierdie aanhaling van die vindingryke wetenskaplike genie, Nobel-pryswenner en persoon van die 20ste eeu volgens die tydskrif Time, as wat jy sou dink. Is dit moontlik dat musiek nie net as ’n genotvolle stokperdjie vir Einstein gedien het nie, maar ook bygedra het tot sy intellek? Sy musikale lewe het gepaard gegaan met sy wetenskaplike lewe, wat dikwels onafskeidbaar was. Dink daaroor! As ’n genie wat verantwoordelik is vir ’n beduidende aantal van die 20ste eeu se wetenskaplike deurbrake, wat vir altyd ons wêreld verander het, so sterk gevoel het oor hoeveel musiek sy lewe beïnvloed het, is dit dalk die moeite werd om dit verder te ondersoek...

Einstein het groot geword in ’n musikale huis, aangesien sy ma, Pauline Koch Einstein, ’n talentvolle pianis was. Sy het Einstein op die ouderdom van ses aangemoedig om die viool te begin speel en het ook vir hom klavier geleer. Dit is ook waardig om op hierdie stadium te noem dat Einstein baie stadig ontwikkel het gedurende sy vroeë kinderjare. Hy het eers op die ouderdom van vier jaar begin praat, sy formele skoolopleiding op ses jaar begin en eers op die ouderdom van sewe begin lees. Trouens, baie het aanvanklik gedink hy was geestelik gestremd as ’n kind. Tog het hy geweldige vordering gemaak en Latyn en Grieks op die ouderdom van tien begin leer en op die ouderdom van dertien kon hy Mozart se viool sonates speel.

So, kon die blootstelling aan musiek bygedra het tot die ontwikkeling van sy kognitiewe vermoëns as ’n jong kind en selfs verder as ’n volwassene? Alhoewel ons nie terug kan gaan in tyd na Einstein se kinderjare om sulke eksperimente uit te voer nie, is dit beslis baie aanneemlik.

Volgens wetenskaplikes is daar sterk bewyse wat daarop dui dat musikale opleiding die breinstruktuur en breinfunksie vir die beter kan verander. ’n Onlangse studie deur neurowetenskaplikes, insluitende Nadine Gaab, PhD, onder andere, van die Laboratoriums van Kognitiewe Neurowetenskap by die Boston Children’s Hospital, kom tot die gevolgtrekking dat daar ’n korrelasie (moontlik ’n biologiese verband) bestaan tussen vroeë musikale opleiding en verbeterde uitvoerende funksionering. Die stimulering van die brein tydens die speel van ’n instrument verbeter uitvoerende funksies (wat verantwoordelik is vir die regulering en aanpassing van gedrag en aksies, verwerking en behoud van inligting en oplossing van probleme) en kognitiewe funksies (wat geheue en abstrakte redeneringsvaardighede insluit). Uitvoerende funksionering is veral ’n kragtige aanwyser van akademiese prestasie – selfs meer as IK!

Musiek het so ’n sterk uitwerking op ons gedagtes. Trouens, jou brein vind meer baat deur ’n musiekinstrument te speel as enige ander aktiwiteit – insluitend sport! Bekroonde Neuromusiekale Opvoeder Dr Anita Collins verduidelik in haar TED Ed les dat jy breinaktiwiteit met fMRB (“fMRI”) en PET skandeerders kan monitor om hierdie stelling te ondersteun. Wanneer ’n sekere aktiwiteit uitgevoer word, soos om te lees of ’n wiskunde probleem op te los, verhelder die ooreenstemmende dele van die brein op die monitors. Toe hulle die breinaktiwiteite van individue wat na musiek luister waargeneem het, het verskeie areas verhelder – soos vuurwerke! Maar toe wetenskaplikes die breins van persone wat na musiek luister met dié van musikante vergelyk, het hulle gevind dat die klein vuurwerke van die eersgenoemde te kort geskiet het in vergelyking met die ontploffing wat in musikante se breins aangaan wanneer hul ’n instrument speel. As jy ’n musiekinstrument speel, is dit die ekwivalent van ’n volle-lyf oefensessie vir die brein! Dit betrek byna elke aspek van die brein. Nietemin, die liggaam is ook baie betrokke wanneer mens ’n instrument speel.

Voordat ons begin debateer rondom die moontlike oorweging om jou huidige buitemuurse aktiwiteit vir musiek te moet verruil, moet jy weet dat ’n artikel wat gepubliseer is in Labour Economics, van die studie wat uitgevoer is deur Charlotte Cabanea en Michael Lechner van SEW en Adrian Hilleb van DIW Berlyn, onthul het dat kinders wat beide musiek en sport doen, hoër akademiese prestasie behaal in vergelyking met kinders wat net aan een of die ander deelneem. As jy belangstel in die voordele van sport op die brein, wat net so fassinerend is, lees asseblief ons artikel “4 Voordele van oefening en sportaktiwiteite op die brein”.


In hierdie artikel bespreek ons die volgende voordele van musiek op die brein:
1. Neurobiologiese Voordele.
2. Kognitiewe Voordele.
3. Sielkundige Voordele.
4. Lewenstyl Gehalte en Prestasie Voordele.


1. Neurobiologiese Voordele.

Neurobiologie verwys na die biologiese studie van die brein se anatomie, fisiologie en senuweestelsel. Die brein is die mees komplekse orgaan van die menslike liggaam. Dit bestaan uit die serebrum (verdeel in twee hemisfere), breinstam, serebellum, komplekse organisering van grysstof en witstof en neurochemikalieë. Die brein prosesseer, koördineer en integreer inligting en beheer die meeste van die liggaam se funksies.

Onlangse studies wat bepaal is deur middel van breinskanderings wys dat daar ’n verskil is in breinstruktuur van musikante in vergelyking met dié van nie-musikante. Die navorsing dui daarop dat die vorm en krag van die brein verander word deur gereeld ’n instrument te speel en dat die anatomiese veranderinge meer prominent is wanneer musikante hul instrument(e) op ’n jonger ouderdom begin leer.

  • Deur ’n musiekinstrument te speel verhoog die volume grysstof in verskillende gedeeltes van die brein.
    Die resultate van ’n studie deur Christian Gaser en Gottfried Schlaug op drie groepe mense, insluitend professionele musikante, amateur musikante en nie-musikante, het gewys dat daar ’n beduidende positiewe verband is tussen die musikant-status en die toename in die volume grysstof. Met ander woorde, professionele musikante het die hoogste volume grysstof vertoon, amateur musikante het matige hoeveelheid vertoon en die laagste volume is vertoon in nie-musikante. Die verskille in die verspreiding van grysstof volume, was in ouditiewe-, visuele- en motoriese kortikale.


  • Deur ’n musiekinstrument te speel verhoog die grootte van die corpus callosum in jou brein.
    Nie net is die volume grysstof hoër in die brein van ’n musikant nie, maar ook die volume en aktiwiteit van die corpus callosum – die “brug” van enorme senuweevesel bondels wat verantwoordelik is vir die langafstand-verbindings tussen die twee hemisfere van die brein. Die fyn motoriese vaardighede wat nodig is om ’n musiekinstrument te speel, word beheer in beide hemisfere van die brein. Die linker-hemisfeer is betrokke by taalkundige en wiskundige akkuraatheid, terwyl die regter-hemisfeer betrokke is by nuwe en kreatiewe inhoud. Verhoogde volume en aktiwiteit van die corpus callosum laat die boodskappe toe om vinniger en deur meer diverse roetes oorgedra te word.


  • Deur ’n musiekinstrument te speel verhoog die bloedvloei in jou brein.
    Deur selfs vir ’n kort rukkie ’n musiekinstrument te speel, sal die bloedvloei na die linker-hemisfeer van die brein verhoog. Verhoogde bloedvloei na die brein sal ook vir jou meer energie gee.

 

2. Kognitiewe Voordele.

Kognisie is die verstandelike aksie of proses om kennis en begrip te verkry deur middel van gedagtes, ervaring en sintuie. As jy ’n musiekinstrument speel, kan jy jou kognitiewe vermoëns verbeter.

  • Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter jou konsentrasie.
    Musikante moet gelyktydig op verskeie dinge konsentreer wanneer hulle ’n instrument speel. Dit sluit in toonhoogte, ritme, tempo, duur en kwaliteit van die noot – alles om ’n musiekstuk uit te voer met presiese tegnieke en emosie. Daar word van musikante verwag om op nog meer aspekte te konsentreer tydens ’n uitvoering wanneer hulle met ’n ensemble of groep speel, waar almal fokus op hul eie unieke melodie en harmonie wat ook toonhoogte, ritme, tempo, duur en kwaliteit van note insluit.


  • Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter uitvoerende funksies
    ’n Studie oor musikaal-opgeleide kinders en volwasse musikante het tot die gevolgtrekking gekom dat hulle verhoogde prestasie ervaar vir verskeie aspekte van uitvoerende funksionering. Dit sluit in beplanning, strategiese uitvoering, fokus op detail, probleemoplossing, behoud van inligting, beheer van gedrag en gelyktydig kognitiewe en emosionele aspekte te analiseer. ’n fMRB (“fMRI”) het bevestig dat die aktiwiteit in spesifieke areas van die prefrontale korteks verbeter was tydens ’n toets wat hulle laat omskakel het tussen verstandelike opdragte.


  • Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter geheue.
    Uitvoerende funksionering beïnvloed ook hoe die brein se geheue-stelsels werk. Deur ’n musiekinstrument te speel en na musiek te luister, kan geheue-funksies verbeter, sodat herinneringe vinniger en meer doeltreffend geskep, gestoor en opgespoor kan word. Navorsing toon ook aan dat musikante hul hoogs gekoppelde breins gebruik om verskeie etikette, soos “klank”, “visueel”, “kontekstueel”, “konseptueel”, “emosioneel” ens. op herinneringe plaas – soortgelyk aan ’n internet-soekenjin.


    Twee algemene tipes geheue word gevind, naamlik korttermyngeheue en langtermyngeheue.

    Korttermyngeheue is die brein se vermoë om ’n klein hoeveelheid inligting te stoor wat binne ’n kort tydjie geredelik toeganklik is. Korttermyngeheue word dikwels beskou as sinoniem met werkgeheue, alhoewel werkgeheue meer akkuraat verwys na die raamwerk van prosesse wat gebruik word om die data wat in korttermyngeheue gestoor is, te verstaan, interpreteer en manipuleer.

    Om ’n musiekinstrument te speel vereis ’n hoë werkgeheue-las. Om baie musiek komposisies of liedjies, soms met lirieke, in ’n kort tydperk te leer en te onthou, soos dikwels van musikante vereis, is ’n baie indrukwekkende prestasie. Wanneer musikante gereeld hul instrumente beoefen, brei hulle hul werkgeheue-kapasiteit uit. ’n Verhoogde werkgeheue-kapasiteit sal verbeterde denkvaardighede oplewer.

    Wanneer korttermyngeheue behoue word na meer as 2 minute van die aanvanklike stimuli, word dit langtermyngeheue. Langtermyngeheue is die brein se vermoë om data onbepaald te stoor. ’n Navorsingstudie onder leiding van akademiese professor Petri Toiviainen, PhD, van die Finse Sentrum vir Interdissiplinêre Musieknavorsing SIMN (“CIMR”) aan die Universiteit van Jyväskylä en Elvira Brattico, PhD, aan die Universiteit van Aalto en die Universiteit van Helsinki, het bevind dat die hippokampus, die deel van die brein wat verantwoordelik is vir die berging van langtermyngeheue, aktief is wanneer jy na herhaalde musiek motiewe of musikale frases in ’n komposisie luister.

  • Deur ’n musiekinstrument te speel verhoog jou IK en verbeter jou akademiese prestasie.
    Musieklesse bepaal vooraf hoë akademiese prestasie en IK-tellings by jong kinders. Die uitkoms van ’n navorsingsstudie wat ’n groep van 6-jariges ingesluit het wat sang of klawerbord lesse vir 36 weke geneem het, het toename in IK en gestandaardiseerde opvoedkundige toets uitslae getoon, in vergelyking met kinders wat aan ander nie-musiekverwante buitemuurse aktiwiteite deelgeneem het.


  • Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter jou lees- en begripsvaardighede.
    Kinders wat musiekinstrumente speel, en veral diegene wat bladmusiek lees, toon hoër kognitiewe prestasie in lees- en begripsvaardighede in vergelyking met hul nie-musikaal-opgeleide eweknieë. Die rede hiervoor is dat om ’n instrument te speel en gelyktydig bladmusiek te lees beteken dat jy die toonhoogte, ritme en duur van ’n noot op ’n bladsy moet erken, sowel as ander instruksies, soos ekspressie en artikulasie, dit te verstaan en te omskep na ’n vingerposisie en liggaamlike aksie om ’n geluid op jou instrument te produseer.


  • Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter jou wiskundige vermoë.
    Om musiek te lees word jy vereis om note en ritmes te tel. Dit kan jou wiskundige vermoë ongelooflik verhoog. Musiekteorie behels ook baie wiskundige aspekte. Kinders wat instrumente speel, kry dikwels hoër punte in wiskunde, asook ander vakke op skool, in vergelyking met kinders wat nie ’n musiekinstrument speel nie.

 

3. Sielkundige Voordele.

Die brein is verantwoordelik vir jou sielkundige en geestelike toestande en musiek beïnvloed die sielkundige aspekte van die brein op ’n baie positiewe en stimulerende manier.

  • Deur ’n musiekinstrument te speel verminder stres.
    Om musiek te peel of te luister kan stres verlig. Dit is as gevolg van die kalmerende en ontspannende effek wat musiek op ’n mens het. Dit is ’n aangename ervaring wat die polsslag, hartklop en bloeddruk verlaag en die vlakke van streshormone verminder.


  • Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter jou gemoed en gelukkigheid.
    Wanneer jy na musiek luister kan dit jou op ’n natuurlike hoë geestestoestand plaas. Dit is as gevolg van die brein wat die neurotransmitter, dopamien, vrystel, wat lei tot verhoogde gelukkigheid, vreugde, opwinding en algehele welsyn.


  • Deur ’n musiekinstrument te speel bou jou selfvertroue.
    Om ’n instrument te speel is ’n wonderlike hulpmiddel wat jou kan help om jou selfvertroue te bou en dit moontlik te maak om jouself te ontdek deur self-ekspressie. Namate kinders hul musiekkuns ontwikkel, sal hulle waarskynlik voor klein gehore begin optree, eers voor musiekonderwysers en ouers, later voor ander eweknieë en uiteindelik in konserte speel. Dit sal hulle help om gemaklik te wees om hulself en hul werk uit te druk voor ander mense in ’n nie-akademiese konteks.


  • Deur ’n musiekinstrument te speel verminder depressie.
    Depressie is ’n toestand van lae gemoed wat ’n persoon se gedagtes en gedrag kan beïnvloed en afkerig tot aktiwiteit kan veroorsaak. ’n Depressiewe bui is dikwels ’n normale reaksie op negatiewe en traumatiese lewenservarings – soos die verlies van iemand naby aan daardie persoon, verwerping, siekte ens. Depressie word beskou as ’n siekte, of, meer gepas, ’n geestelike wanorde, sodra dit ’n paar weke duur met konsekwente simptome wat ontwrigting veroorsaak in ’n persoon se vermoë om normaal te funksioneer. Dit gaan gepaard met die verlies van belangstelling in aangename aktiwiteite en lae selfwaarde. Depressie kan veroorsaak word deur genetiese en/of omgewingsfaktore.


    Ons hormone speel ’n kritieke rol in ons gemoedstoestande, en as dit uit balans is of ontwrig word, kan dit onder meer depressie veroorsaak. Musiek het ’n direkte effek op ons hormone. Wanneer jy musiek ervaar, deur na dit te luister of ’n instrument te speel, word die neurotransmitters serotonien en dopamien in die brein vrygestel. Hierdie neurotransmitters is verantwoordelik vir die verhoogde gevoelens van vreugde, gelukkigheid en algehele welsyn. Norepinefrien, die hormoon wat verantwoordelik is vir gevoelens van euforie, word ook vrygestel.

 

4. Lewenstyl Gehalte en Prestasie Voordele.

Musiek kan ander aspekte van jou lewe verbeter en jou toelaat om die lewe ten volle te geniet. Plato het gesê: “Musiek is ’n morele wet. Dit gee ’n siel aan die heelal, vlerke aan die gees, vlug aan die verbeelding, ’n sjarme aan hartseer, en lewe aan alles. Dit is die kern van orde en lei tot alles wat goed, regverdig en mooi is, waarvan dit die onsigbare, maar nietemin skitterende, passievolle en ewige vorm is.”

  • Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter sosialiseringsvaardighede.
    Deur ’n musiekinstrument te speel help dit jou om op ’n unieke wyse aan gesprekke deel te neem, as gevolg van verhoogde kognitiewe vermoëns en verhoogde begrips-, ouditiewe- en taalvaardighede. Jou brein sal kreatief kan dink en abstrakte gedagtes kan vermaak, wat interessante gesprekke tot gevolg sal hê.


  • Deur ’n musiekinstrument te speel versterk jy bande met ander.
    Om musiek te speel in ’n groep, ensemble of orkes sal jy belangrike vaardighede leer, soos om met ander mense op te tree en saam te werk. Om goeie musiek saam te speel en te skep moet die spelers leer hoe om liggaamstaal te lees, op klein besonderhede op te let en te luister na mekaar. Dikwels is ’n emosionele konneksie ook betrokke wanneer mense dieselfde gevoelens in harmonie uitdruk of hul bydrae lewer om ’n storie te vertel deur musiek.


  • Deur ’n musiekinstrument te speel verbeter jou tydsbestuursvaardighede.
    Tydsberekening en tempo, insluitend musiek pouses, is noodsaaklik om ’n komposisie musikaal te laat klik. Nog meer, die proses om te leer hoe om ’n musiekinstrument te speel, is baie afhanklik van tyd- en tydsbestuur. Deur te leer hoe om jou tyd, skedules en roetine te organiseer is noodsaaklik. Die kwaliteit van oefentyd is meer waardevol as die hoeveelheid. Jy sal baie vinniger vordering maak met die korrekte oefen-regime wat uitbeplan is. Dit sal jou help om jou oefentyd meer doeltreffend te maak.


  • Deur ’n musiekinstrument te speel verhoog jou koördinasie.
    Om ’n instrument te speel en musiek te lees, vereis beter hand-oog-koördinasie. Wanneer jy musieknotasie op ’n bladsy lees, herken jou brein elke noot, begryp dit en skakel dit oor in spesifieke motoriese patrone, soos ’n vingerposisie en liggaamlike beweging wat die klank sal produseer.



Ons hoop dat jy geïnspireer voel om ’n instrument te wil begin speel en musiek te maak. Musiek kan jou brein bevoordeel, wat uiteindelik jou lewe op baie maniere sal verbeter. Maar bo alles is dit baie lekker en belonend om musiek te maak, iets wat nogal onbeskryflik is as jy dit nog nie vantevore gedoen het nie. Dit is altyd goed om so gou moontlik te begin, aangesien die effekte op die brein meer merkwaardig en blywend sal wees, maar dit is nooit te laat om te begin nie en jy moet beslis nie opgee nie! Toe die wêreldbekende tjellis, Pablo Casals, in sy 80’s gevra is waarom hy steeds vier tot vyf uur per dag oefen, het Casals geantwoord met: “Ek dink ek maak nou vordering”. Laat weet ons watter instrument(e) jy speel of beplan om binnekort te leer.

© Kopiereg Afrikaanse Skoolprojekte. Alle regte voorbehou. Alle inligting hierin is die intellektuele eiendom van Afrikaanse Skoolprojekte en is beskerm deur die wet, insluitend maar nie beperk tot kopieregwetgewing nie. Geen inligting mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie. Afrikaanse Skoolprojekte behou verder die reg voor om enige toestemming te onttrek indien ons van mening is dat die gebruiker enige voorwaardes waaronder toestemming gegee is oortree. Uittreksels en skakels mag gebruik word, mits volledige en duidelike krediet aan Afrikaanse Skoolprojekte gegee word, met toepaslike en spesifieke aanduiding na die oorspronklike inhoud. As prente gebruik word, mag ons watermerk nooit afgesny of verwyder word nie. Ons moedig ons lesers aan om ons artikels via e-pos en sosiale media netwerke te deel deur middel van ons skakels. Sien asseblief ons Bepalings en Voorwaardes as jy onseker is oor die gebruik van ons materiaal.

HET JY VAN DIE ARTIKEL GEHOU?

As jy van hierdie artikel gehou het, teken in op ons nuusbrief. Jy sal gratis waardevolle advies en wenke ontvang om jou kinders se akademiese prestasie 'n hupstoot te gee.


LEWER KOMMENTAAR

Ons wil graag hoor wat jy dink. Lewer kommentaar op hierdie artikel.

  • Jou persoonlike kontakbesonderhede sal nie gepubliseer word nie, slegs jou naam.
  • Ons streef daarna om deursigtig te wees. Alle negatiewe resensies of positiewe kritiek sal gepubliseer word.
  • Jou terugvoering sal hersien word vir enige ontoepaslike taalgebruik voordat dit gepubliseer word.

SOORTGELYKE ARTIKELS

HOE OM ’N GESONDE SELFBEELD TE ONTWIKKEL

Jou selfbeeld beïnvloed die besluite wat jy maak, die verhoudings wat jy het en uiteindelik die pers...

Lees

5 WENKE OM JOU SELFVERTROUE BINNE EN BUITE DIE KLASKAMER OP TE BOU

Het jy geweet daar is kragtige wetenskaplike maniere waarop jy dadelik meer selfvertroue kan verkry?...

Lees
Terug na blog

Ontwikkeling en Bediening: Resolve Technology Solutions

Ontwerp en SEO: Avelantis

© Kopiereg 2003 - 2024 Afrikaanse Skoolprojekte. All Regte Voorbehou.
Geen inligting of dokument mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie.