HOE OM ’N GESONDE SELFBEELD TE ONTWIKKEL

Maandag, 05 Februarie 2018

Deur Afrikaanse Skoolprojekte

’n Positiewe selfbeeld verseker ’n gesonde lewenstyl.

blogImage

Jou selfbeeld ontwikkel en verander soos wat jy lewenservarings opdoen en ouer word. Jy vind uit wat jou talente is en wat jy geniet om te doen. Jy raak ook bewus van die areas waarin jy nie goed presteer nie en ook van dit waarvan jy nie hou om te doen nie. Jy groei en leer. Jou idees oor die wêreld en jou belange verander. Mense kom in jou lewe in en maak jou oë oop vir nuwe dinge. Ongelukkig sal sommige mense ook probeer om jou af te trek. Dit is deel van die lewe – ’n werklikheid wat onvermydelik is. Al hierdie ervarings dra by tot wie jy is en bepaal hoe jy jouself sien en oor jouself voel. Jou selfbeeld beïnvloed die besluite wat jy maak, jou verhoudings met ander en uiteindelik die persoon wat jy is. Dit is dus noodsaaklik om jouself te verstaan. Jy moet jou selfbeeld aktief evalueer en as jy dalk ’n swak selfbeeld het, moet jy daaraan werk en maniere vind om jou selfbeeld te versterk as dit jou daaglikse lewe negatief beïnvloed. Dikwels is ’n swak selfbeeld ’n vervormde siening van jouself. Al wat jy moet doen is om jou gedagtes en persepsies te verander oor hoe jy dink jy behoort te wees. Hierdie negatiewe sienings hou jou terug om jou potensiaal te bereik. Jou onvolmaakthede en tekort aan vaardighede het baie min te doen met wat jy kan en nie kan bereik nie.

Selfbeeld is nie altyd dieselfde as om selfvertroue te hê nie. Selfvertroue het baie te doen met die vertroue wat jy in jou vermoë het om goed te presteer in sekere areas sowel as die eienskappe en talente wat jy besit. Selfvertroue (of die gebrek daaraan) kan in die volgende scenario geïllustreer word: Jy is vol vertroue in die kunsklas. Jy geniet dit om te verf en presteer goed in die kunsklas. Jy is egter twyfelagtig oor jouself en jou vermoëns wanneer dit by sport kom. Jy is nie atleties nie, jy het geen balvaardigheid nie en het geen hand-oog koördinasie nie. Vir sommige kan die gebrek aan vertroue in hul vermoëns op die sportveld ’n mate van tydelike stres vir hul veroorsaak sonder om ’n swak selfbeeld te veroorsaak. Sommige aanvaar dit dat hulle nie talentvol is in daardie gebied nie en hulle fokus op dit waarmee hulle wel goed is – soos skilder en teken – en hulle verbeter daardie vaardighede. Sulke individue is steeds gelukkig en het ’n goeie selfbeeld. Waarom is dit dan so? Selfbeeld het baie meer te doen met jou interne waardes en selfrespek wat diep in jou gewortel is.

Oor ’n langer tydperk kan ’n swak selfbeeld ’n invloed hê op jou vermoë om goed te presteer in gebiede waarin jy gewoonlik goed is – wat jou selfvertroue negatief kan beïnvloed. Wanneer jy ook voortdurend in situasies geplaas word waar daar van jou verwag word om goed te presteer in gebiede waarin jy nie besonders goed is nie, kan jou selfbeeld daaronder ly, omdat jy sal begin om te glo dat jy in niks goed is nie. Ons wil egter jou herinner daaraan dat jy afsonderlik aan jou selfbeeld en selfvertroue kan werk.

Hopelik verstaan jy nou die verskil tussen selfvertroue en selfbeeld.


Fundamentele beginsels wat jou sal help om ’n positiewe selfbeeld te vorm:
1. Weet dat jy ’n wonderwerk is.
2. Aanvaar jouself, ongeag jou onvolmaakthede.
3. Leef in die oomblik.
4. Positiewe gedagtes oor jouself sal lei tot ’n positiewe lewe.
5. Versprei positiwiteit so ver as wat jy gaan.


1. Weet dat jy ’n wonderwerk is.

Die kans dat jy in hierdie spesifieke tyd, plek en omstandighede gebore is, is 1 in 400,000,000,000. Dit beteken dat jy letterlik ’n wonderwerk is! Dink daaroor. As dit die geval is kan jy nie die feit ignoreer dat jy ’n spesifieke doel op aarde het nie. Hierdie wêreld sou nie volmaak wees sonder jou nie. Ons Skepper het jou in hierdie spesifieke tyd en plek gemaak met ’n rede. Dit is jou plig om uit te vind wat jou doel in die lewe is en elke dag te streef om daardie doel te bereik. Jou tyd is beperk, so maak die meeste daarvan. Erken dat jy ’n wonderwerk en ’n unieke mens is. Jy is waardig van ’n pragtige en voorspoedige lewe! Niemand kan of mag jou ooit laat voel asof jy hierdie lewe nie verdien nie.


2. Aanvaar jouself, ongeag jou onvolmaakthede.

Self-aanvaarding is die sleutel tot ’n gesonde selfbeeld. Soms kan dit moeilik wees om jouself te aanvaar, want jy wil dalk iets verander oor jou voorkoms, vermoëns of talente. Miskien wil jy vinniger hardloop, miskien wil jy minder skaam wees voor vriende of dalk het jy dit net nog nie reggekry om van jou sproete te hou nie. Dit is alles normale gedagtes wat elke kind en tiener op een of ander stadium in hul lewe ervaar. Alhoewel jy altyd moet probeer om jouself te verbeter in alle aspekte van jou lewe, moet dit nie ’n obsessie word of jou verhinder om jou lewe te leef nie. Ons het almal foute en die wêreld is vol foute. Skoonheid, jeug, krag en voorkoms is subjektiewe eienskappe. Ja, natuurlik is dit belangrik om na ons liggame om te sien; om ons talente te geniet en te bevorder; maar onthou dat alles met tyd vervaag. Dit is dus meer belangrik om onsself lief te hê en om met onsself te kan saamleef - leer dus om mekaar lief te hê met al ons onvolmaakthede. Selfverbetering moet gemotiveer word deur jou dryfkrag om jou doel op aarde te vervul en om te doen wat jy bestem was om te doen. Vind daardie magiese vonk wat in jou brand en hou die vlam lewendig. Lucille Ball het dit die beste gestel: “Wees eerstens lief vir jouself en alles anders sal in plek val. Jy moet werklik jouself liefhê om enige iets in hierdie wêreld gedoen te kry.”


3. Leef in die oomblik.

Elke dag wat jy beleef, ervaar die lewe werklik. Wees bewus van jou omgewing. As jy eet – proe regtig die smaak in jou mond. As jy na vriende luister, moet jy aan hulle jou volle aandag gee. As jy in die oomblik leef, sal jy minder oor die toekoms en die verlede stres. Wat ook al jy doen in jou daaglikse aktiwiteite, wees ten volle aanwesig.


4. Positiewe gedagtes oor jouself sal lei tot ’n positiewe lewe.

Ons selfbeeld word gevorm deur ons gedagtes oor onsself. Praat met jouself soos wat jy met ’n vriend sou praat. As jy ’n positiewe gedagte oor jouself gedink het, skryf dit neer of sê dit hardop. As jy ’n negatiewe gedagte oor jouself het – laat jouself toe om daardie gedagte dink, maar voeg daarna die woord “maar” by jou sin. Byvoorbeeld: “Ek is nie goed in wiskunde nie, MAAR ek leer om breuke te doen en ek maak eintlik geweldig baie vordering.”

Skryf elke aand 3 dinge neer wat jy glo jy daardie dag goed gedoen het. Dit kan iets wees wat jy bereik het of selfs iets positief oor jouself. Skryf enigiets al is dit net iets klein. Elke dag moet jy iets nuuts skryf. Byvoorbeeld:

Dag 1

  1. Vandag het ek die deur oopgehou vir ’n vriend wat swaar boeke gedra het.
  2. Ek het ’n baie snaakse grap vertel en my broers en susters het uit hul buik gelag.
  3. Ek het beter in my Engelse toets gedoen as ooit vantevore het, al het ek slegs 60% behaal.


Dag 2

  1. Ek het opgestaan vir ’n boelie wat my vandag gespot het.
  2. Ek het vir ’n vreemdeling geglimlag en toe glimlag sy terug.
  3. Ek het ’n mooi prentjie van ’n motorfiets geteken – ek vertrou ek sal goed doen in kunsklas hierdie kwartaal.


Fokus nie net op die groot dinge wat jy goed doen nie, maar ook op die klein dingetjies. Die wetenskap agter hierdie is dat wanneer jy voortgaan om te fokus op die goeie dinge wat jy op daardie dag gedoen het, jou brein die volgende dag sal begin soek na meer goeie dinge. Sielkundig sal jy jou gedagtes aanpas vir ’n beter selfbeeld, bloot deur aan die klein dingetjies wat jy goed gedoen het erkenning te gee.


5. Versprei positiwiteit so ver as wat jy gaan.

Hef ander mense op. Soek vir die goedheid in ander. Moenie net aan hulle komplimente gee bloot ter wille van ’n gesprek met hulle nie – maar let op die goeie dinge wat hulle doen, erken dit en vertel aan hulle dat jy trots op hulle is.


Begin vandag deur klein veranderings aan jou gedrag te maak om jou selfbeeld te bou. Jy is waardig van geluk, liefde en sukses. Jy is ’n geskenk aan hierdie wêreld! Dit maak nie saak wat jou agtergrond of herkoms is nie, hierdie wêreld sal nie dieselfde sonder jou wees nie en jy word benodig om ’n verskil in die wêreld te maak. “Mense is soos gebrandskilderde vensters. Hulle skitter en skyn as die son uit is, maar wanneer die duisternis kom word die ware skoonheid slegs geopenbaar as daar lig van binne is.” - Elisabeth Kübler-Ross. Laat jou lig van binne skyn!

© Kopiereg Afrikaanse Skoolprojekte. Alle regte voorbehou. Alle inligting hierin is die intellektuele eiendom van Afrikaanse Skoolprojekte en is beskerm deur die wet, insluitend maar nie beperk tot kopieregwetgewing nie. Geen inligting mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie. Afrikaanse Skoolprojekte behou verder die reg voor om enige toestemming te onttrek indien ons van mening is dat die gebruiker enige voorwaardes waaronder toestemming gegee is oortree. Uittreksels en skakels mag gebruik word, mits volledige en duidelike krediet aan Afrikaanse Skoolprojekte gegee word, met toepaslike en spesifieke aanduiding na die oorspronklike inhoud. As prente gebruik word, mag ons watermerk nooit afgesny of verwyder word nie. Ons moedig ons lesers aan om ons artikels via e-pos en sosiale media netwerke te deel deur middel van ons skakels. Sien asseblief ons Bepalings en Voorwaardes as jy onseker is oor die gebruik van ons materiaal.

HET JY VAN DIE ARTIKEL GEHOU?

As jy van hierdie artikel gehou het, teken in op ons nuusbrief. Jy sal gratis waardevolle advies en wenke ontvang om jou kinders se akademiese prestasie 'n hupstoot te gee.


LEWER KOMMENTAAR

Ons wil graag hoor wat jy dink. Lewer kommentaar op hierdie artikel.

  • Jou persoonlike kontakbesonderhede sal nie gepubliseer word nie, slegs jou naam.
  • Ons streef daarna om deursigtig te wees. Alle negatiewe resensies of positiewe kritiek sal gepubliseer word.
  • Jou terugvoering sal hersien word vir enige ontoepaslike taalgebruik voordat dit gepubliseer word.

SOORTGELYKE ARTIKELS

HOE OM ’N GESONDE SELFBEELD TE ONTWIKKEL

Jou selfbeeld beïnvloed die besluite wat jy maak, die verhoudings wat jy het en uiteindelik die pers...

Lees

5 WENKE OM JOU SELFVERTROUE BINNE EN BUITE DIE KLASKAMER OP TE BOU

Het jy geweet daar is kragtige wetenskaplike maniere waarop jy dadelik meer selfvertroue kan verkry?...

Lees
Terug na blog

Ontwikkeling en Bediening: Resolve Technology Solutions

Ontwerp en SEO: Avelantis

© Kopiereg 2003 - 2024 Afrikaanse Skoolprojekte. All Regte Voorbehou.
Geen inligting of dokument mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie.