DIE BESTE MANIER OM TE VERSEKER DAT JY VOORBEREID IS VIR JOU EKSAMEN, IS DEUR SELFASSESSERING

Maandag, 21 Mei 2018

Deur Afrikaanse Skoolprojekte

Wees verseker dat jy goed voorbereid is vir die eksamen deur oefenvraestelle te gebruik.

blogImage

Het jy al ooit hard gestudeer vir 'n toets, maar dan op die dag van die toets is jou geheue skoon weg. Dit laat ons soms moedeloos voel omdat ons gedink het ons het al die antwoorde geken. Wel, daar is 'n manier om seker te wees jy weet presies hoe om 'n vraag te beantwoord - deur middel van oefen-eksamenvraestelle. Selfassessering is die geheim wat 'n verskil in slaag of druip te kan maak, of in 'n 60% en 80%. Navorsing het keer op keer gewys dat oefenvraestelle jou kennis van 'n onderwerp sal verbeter, maar ook jou insig oor hoe om vrae oor ’n bepaalde onderwerp te beantwoord. Om oefen eksamenvraestelle deur te werk, neem tyd en moeite, maar moenie dat dit jou afskrik nie. Thomas Edison, uitvinder en sakeman het gesê: “Geleenthede word deur mense misgeloop omdat dit in ’n oorpak aangetrek is en soos werk lyk.” Moenie die geleentheid om te leer en goeie punte te behaal deur jou vingers laat glip, net omdat dit na harde werk lyk nie.


Waarom jy oefenvraestelle moet gebruik om jou studie-sessies te verbeter:
1. Weet wat belangrik is en wat nie.
2. Verkry vertroudheid.
3. Beoefen jou konsentrasie.
4. Verminder eksamenangs.
5. Los wat jy weet en fokus op wat jy nie weet nie.
6. Beoefen Eksamentegnieke.


1. Weet wat belangrik is en wat nie.

Wanneer jy eksamenvraestelle deurgaan, sal jy gou besef watter onderwerpe en watter soort vrae belangrik is. Jy het dalk al jou aandag op een onderwerp gefokus, maar gou besef dat daar 'n ander onderwerp is wat jy nie so belangrik geag het nie. Deur oefenvraestelle sal jy weet op watter onderwerpe jy moet fokus.


2. Verkry vertroudheid.

Een van die grootste voordele wat jy deur die gebruik van oefenvraestelle verkry is dat jy gewoond raak aan die styl van die vrae. Normaalweg studeer ons nie in die vorm van meervoudige keuse of deur kolom A by kolom B te pas nie, maar dit is juis die tipe vrae wat ons moet kan beantwoord. Oefenvraestelle help ons om hierdie tipe vrae te beantwoord. Ons word bekend gestel aan langvrae, kort of- eenantwoordvrae, vul in die ontbrekende woord, diagramme en sketse, en oefen hoe om die antwoorde te gee wat punte sal verdien.


3. Beoefen jou konsentrasie.

As jy 'n werklike eksamen skryf, moet jy kan konsentreer vir die hele tyd wat jy skryf. Ons studeer egter nie normaalweg vir sulke lang periodes aan een nie. Ons studeer meestal in sessies van 45 minute met 'n 15 minute breek tussenin. Dit is egter nie hoe toetse werk nie. Gedurende 'n eksamen skryf ons nie net 45 minute en breek dan tussenin nie. Ons moet kan konsentreer vir die volle duur van die eksamen en dit verg oefening om dit te reg te kry.

Deur die gebruik van oefen eksamenvraestelle raak jy gewoond aan die hoeveelheid vrae. In 'n tipiese Afrikaans Huistaal-vraestel van 2 uur moet daar sekere vrae met 'n spesifieke lengte wees, want 'n onderwyser moet al die onderwerpe toets. Daarom sal ons deur die uitwerk van oefenvraestelle gewoond raak aan die aantal vrae en ook die hoeveelheid tyd wat elke vraag neem om te voltooi.


4. Verminder eksamenangs.

'n Goeie manier om eksamenangs te verminder, is deur middel van oefen eksamenvraestelle, omdat jy vertroud is met die emosies rondom eksamens. Wanneer jy ’n oefenvraestel uitwerk, doen dit onder eksamentoestande. Byvoorbeeld: As die eksamenvraestel 2 en 'n half uur lank is, sit jou selfoon weg, neem 'n horlosie, en maak seker jy gebruik slegs twee en 'n half uur om die vraestel te voltooi. Merk jou vraestel deur 'n rooi pen te gebruik en gee jouself 'n punt. Nou het jy alreeds deur die aksies van die skryf van 'n eksamen gegaan en ook die emosie van eksamendruk ervaar. Hoe meer jy dit doen, hoe meer raak jy gewoond daaraan en jou algehele angs teenoor eksamens sal laer en laer word. Jy sal binnekort enige toets kan hanteer.


5. Los wat jy weet en fokus op wat jy nie weet nie.

Nadat jy 'n oefenvraestel voltooi het, is die werk nog nie klaar nie! Jy moet jouself evalueer. As jy jou antwoorde met 'n rooi pen gemerk het, identifiseer die gedeelte waar jy die meeste rooi sien, en gaan bestudeer dit wat jy nie korrek kon beantwoord nie. Gaan terug na jou notas of handboek en identifiseer presies wat jy nie geweet of verstaan het nie - en leer dan daardie materiaal oor en oor totdat jy dit soos die palm van jou hand verstaan.


6. Beoefen Eksamentegnieke.

Daar is sekere eksamentegnieke wat bydra tot jou eksamensukses. Beoefen hierdie tegnieke uit terwyl jy eksamenvraestelle uitwerk.

  • Begin altyd met die skryf van jou naam op jou vraestel.
  • Kyk vinnig na al die vrae en maak seker dat jy die korrekte aantal papiere in die vraestelle het om die eksamen te voltooi.
  • Draai altyd jou vraestelle om en maak seker dat daar niks op die agterkant van die laaste bladsy geskryf is nie sodat jy nie 'n vraag miskyk nie.
  • Bereken hoeveel tyd wat jy aan elke vraag kan spandeer. Byvoorbeeld: As jy 2 ure het om 'n toets te voltooi wat 80 punte tel, kan jy vinnig bereken dat jy 1,5 minute per punt het (120 minute / 80 punte = 1,5 minute per punt). Daarom weet jy as die eerste vraag 'n subtotaal van 10 punte het, het jy 15 minute om die eerste vraag te voltooi (10 punte x 1,5 minute = 15 minute). Dit is baie belangrik dat jy nie meer tyd aan 'n vraag spandeer as wat jy bereken het nie. Onthou, elke minuut wat jy meer bestee op een vraag, neem jy tyd weg van die volgende vraag. As jy die hele vraestel voltooi het en daar nog tyd oor is, kan jy altyd terugkeer na die eerste vraag toe.
  • Ondersoek die vrae vlugtig sodat jy weet watter onderwerp vir elke vraag verwag word.
  • Begin met die vraag wat die onderwerp dek wat jy die beste ken.
  • Ontspan tydens die beantwoording van al die vrae en haal elke keer 'n diep asem voordat jy die volgende een begin. Onthou, jou brein het suurstof nodig om op sy beste te presteer.

Noudat jy die belangrikheid van die oefen eksamenvraestelle verstaan, wonder jy dalk waar jy dit kan verkry. Afrikaanse Skoolprojekte spesialiseer in die verskaffing van eksamenvraestelle.

Ons Eksamenvraestelle en Antwoorde help leerders om die tegnieke van toetse en eksamens te bemeester. Ons voorbeeldvraestelle word op dieselfde wyse, formaat en moeilikheidsgraad deur die NKV aangebied en is gebaseer op CAPS. Die vrae stimuleer linker en regterbreinaktiwiteit. Die volgende tipe vrae word in ons vraestelle ingesluit: Definisie van terme; Waar of Vals (Verskaf die korrekte antwoord as dit vals is); Pas kolom B by kolom A; Diagramme en Sketse; Vul die ontbrekende woorde in; Meervoudige keuse; Kort vrae; Lang vrae; Blokkiesraaisels. Alle vakke per graad word ingesluit en vakke word in kwartale verdeel.


Ons sal graag wil weet of jy ons eksamenvraestelle gebruik het en vir watter graad. Is daar enige ander tegnieke wat jy gebruik wanneer jy 'n eksamen skryf? Laat weet ons in die kommentaar afdeling hieronder.

© Kopiereg Afrikaanse Skoolprojekte. Alle regte voorbehou. Alle inligting hierin is die intellektuele eiendom van Afrikaanse Skoolprojekte en is beskerm deur die wet, insluitend maar nie beperk tot kopieregwetgewing nie. Geen inligting mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie. Afrikaanse Skoolprojekte behou verder die reg voor om enige toestemming te onttrek indien ons van mening is dat die gebruiker enige voorwaardes waaronder toestemming gegee is oortree. Uittreksels en skakels mag gebruik word, mits volledige en duidelike krediet aan Afrikaanse Skoolprojekte gegee word, met toepaslike en spesifieke aanduiding na die oorspronklike inhoud. As prente gebruik word, mag ons watermerk nooit afgesny of verwyder word nie. Ons moedig ons lesers aan om ons artikels via e-pos en sosiale media netwerke te deel deur middel van ons skakels. Sien asseblief ons Bepalings en Voorwaardes as jy onseker is oor die gebruik van ons materiaal.

HET JY VAN DIE ARTIKEL GEHOU?

As jy van hierdie artikel gehou het, teken in op ons nuusbrief. Jy sal gratis waardevolle advies en wenke ontvang om jou kinders se akademiese prestasie 'n hupstoot te gee.


LEWER KOMMENTAAR

Ons wil graag hoor wat jy dink. Lewer kommentaar op hierdie artikel.

  • Jou persoonlike kontakbesonderhede sal nie gepubliseer word nie, slegs jou naam.
  • Ons streef daarna om deursigtig te wees. Alle negatiewe resensies of positiewe kritiek sal gepubliseer word.
  • Jou terugvoering sal hersien word vir enige ontoepaslike taalgebruik voordat dit gepubliseer word.

SOORTGELYKE ARTIKELS

VIND ’N LEERSTYL WAT DIE BESTE BY JOU PAS

Het jy geweet daar is 4 primêre leerstyle: Visuele leerstyl, Ouditiewe leerstyl, Lees/Skryf leerstyl...

Lees

DIE BESTE MANIER OM TE VERSEKER DAT JY VOORBEREID IS VIR JOU EKSAMEN, IS DEUR SELFASSESSERING

Het jy al ooit hard gestudeer vir 'n toets, maar dan op die dag van die toets is jou geheue skoon we...

Lees
Terug na blog

Ontwikkeling en Bediening: Resolve Technology Solutions

Ontwerp en SEO: Avelantis

© Kopiereg 2003 - 2024 Afrikaanse Skoolprojekte. All Regte Voorbehou.
Geen inligting of dokument mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie.