HOE OM JALOESIE VAN EWEKNIEË TE VERSTAAN EN OORKOM

Maandag, 27 Augustus 2018

Deur Afrikaanse Skoolprojekte

Soms wanneer jy uitblink in akademie, sport en kultuur kry jy ongegronde kritiek vanaf uiters mededingende eweknieë of diegene wat geen van hierdie aktiwiteite doen nie. Hoe kan jy dit hanteer?

blogImage

Ons het die belangrikheid van buitemuurse aktiwiteite vir kinders en tieners in ons vorige blog artikels bespreek. Dit is goed om ander aktiwiteite te doen buiten om op skoolwerk te fokus, om ’n gesonde en gebalanseerde lewenstyl te leef. Meer as net lekker tydverdryf, help dit kinders om belangrike en noodsaaklike vaardighede te ontwikkel. Buitemuurse aktiwiteite is ook uiters voordelig vir kinders se breinontwikkeling – wat bewys is deur verskeie wetenskaplike studies. Wetenskaplikes het ook ontdek dat dit kinders se akademiese prestasie verhoog. Ons het die noodsaaklikheid om balans tussen buitemuurse aktiwiteite en skoolwerk te handhaaf ook bespreek.


Jy sal dit geniet om hierdie ongelooflike insiggewende artikels te lees as jy nog nie het nie:


As jy daarvan hou om te leer en om aan sport-, kuns- en kultuuraktiwiteite deel te neem, is die kans groot dat jy baie tyd daaraan spandeer. Aangesien jy soveel tyd aan hierdie aktiwiteite bestee, sal jy vanselfsprekend wil vorder met hierdie vaardighede. Jy sal gedrewe wees om hard te werk, want dit laat jou goed voel en as jy dit lank genoeg doen en hard genoeg daaraan werk, sal jy resultate sien en daarin slaag.

Om in een aktiwiteit uit te blink, stel jou ook in staat om goed te presteer in ander aktiwiteite en so aan. Jy sal met energie gevul word en ’n positiewe ingesteldheid hê om meer dinge uit te probeer. Jy sal waarskynlik ook die eerste keer wat jy dit probeer vinniger vorder, as gevolg van baie ander vaardighede (soos fyn motoriese vaardighede, hand-oog-koördinasie, kognitiewe vermoëns, verbeterde geheue en konsentrasie, ens.) wat jy reeds aangeleer het deur ander aktiwiteite. Hoe meer vaardighede jy het, hoe meer sal dit mekaar aanvul. Dit sal jou help om ’n beter weergawe van jouself te word. Is dit nie wonderlik hoe die menslike liggaam funksioneer nie?

Soms kan daar egter ’n nadeel wees om goed te presteer op soveel vlakke. Sommige van jou eweknieë mag jou as ’n “oorpresteerder” beskou – ’n neerhalende term om as sulks op ’n negatiewe manier na jou te verwys, omdat hulle self nie die dissipline of motivering het om enige aktiwiteite te doen nie, of omdat hulle nie so goed soos jy doen nie, weens ’n gebrek aan vaardighede, talent en ander redes. Ja, ’n aantal faktore kan hier betrokke wees. Kinders in sommige gesinne het dalk nie die finansiële sekuriteit om hul in staat te stel om deel te neem aan party van hierdie aktiwiteite nie. Van hulle het moontlik ander persoonlike probleme om mee te deel, soos om geboelie of mishandel te word of hul ouers gaan deur ’n egskeiding ens. Nogtans kan hulle dalk begin om ’n nare dinge oor jou te sê as jy presteer en hulle doen nie. Waarop dit min of meer neerkom, is jaloesie.


Maniere om jaloesie van eweknieë te verstaan en te oorkom:
1. Wat is jaloesie?
2. Waarskuwingstekens wanneer ’n bepaalde persoon of groep jaloers op jou is.
3. Die verskillende soorte jaloesie en hoekom dit gebeur.
4. Die effek en gevare wat jaloerse mense op jou het.
5. Doen ’n mate van introspeksie.
6. Besin oor watter aktiwiteite jou jaloerse eweknieë doen (of nie doen nie).
7. Praat met die spesifieke jaloerse individu(e) om konflik op te los.
8. Kry ander persone betrokke of soek professionele hulp wanneer dinge handuit ruk.
9. Fokus op jouself en jou vaardighede. Jy kan nie almal tevrede stel nie.
10. Inspireer ander om hul doelwitte in die lewe na te streef.


1. Wat is jaloesie?

Die lewe kan soms, meer dikwels as nie, soos een groot kompetisie voel! Om ’n perfekte lewe aan ander te vertoon, blyk soos die begin en einde vir baie mense. Veral in ’n wêreld waar almal voortdurend obsessief is om hulself, hul prestasies, besittings en verhoudings in foto’s op sosiale media te plaas. Kinders word dikwels gedruk om buitengewoon goed op skool en in buitemuurse aktiwiteite te presteer – veral om hierdie status van “perfeksie” te handhaaf vir hul ouers wat daarvan hou om hulle op ’n sosiale media-podium te plaas. Daar is niks verkeerd met ouers wat wil hê dat hul kinders die beste moet presteer as wat hul moontlik kan en dan wys hoe trots hulle op hul kinders is nie. Kom ons kyk egter rasioneel na dit, soms kan dit alles buitensporig raak. Wanneer kinders sien dat mense wat ouer as hulle is in ’n manier optree wat as “pronkerig” beskou kan word, sien hulle dit as aanvaarbaar en sal dit natuurlik kopieer. Geen wonder dat hulle verwar word as hul ouers dit nie goedkeur wanneer hulle dinge te vêr neem en begin om foto’s op te laai wat elke minuut van hul “fantastiese” lewens vertoon nie...

Volwassenes ervaar druk, mededinging en jaloesie vanaf lewensmaats, medewerkers, bure ens. van tyd tot tyd. Die meeste het egter geleer om sulke emosies vanweë beide kante van die spectrum te beheer, sodat dit nie hul lewens uitermatig negatief beïnvloed nie. Kinders aan die ander kant is baie broos aangesien hulle nog nie die hanteringsmeganismes geleer het hoe om iemand wat jaloers is op hulle te behandel nie. Hulle is ook nie seker wat om te doen wanneer hulle jaloers raak op ander mense nie. Om hierdie rede kan die lewe van ’n kind op skool in sommige gevalle selfs meer kompleks wees as dié van volwassenes. Om slim, aantreklik, snaaks, ryk, populêr, atleties of kunstig te wees, kan netsowel ’n lys wees om af te merk vir kinders van alle ouderdomme. Wanneer hulle tekort kom in enige van hierdie, kan dit tot ’n verskeidenheid gedagtes, gevoelens en emosies lei. Wanneer jaloesie die hoof faktor is, kan dit vir hulle en hul slagoffers ernstige probleme veroorsaak wanneer dit nie behoorlik aangespreek word nie.

Voordat jy gevoelens van jaloesie kan aanspreek of weet wat om te doen wanneer iemand anders jaloers op jou is, moet jy verstaan wat jaloesie is.

Jaloesie is ’n komplekse emosie wat verskillende gedagtes en gevoelens in ’n persoon insluit. Dit kan wissel vanaf gevoelens van onsekerheid, vreesagtigheid, bekommernis, wrewelrigheid, bedreigheid en jaloesie. Veral teenoor iemand met wie jy jouself vergelyk – hul eienskappe, persoonlike waarde, voordele en besittings. Hierdie gevoelens ontstaan in die sin dat jy bekommerd is oor jou eie posisie. Jy is bang om te verloor wat jy het as gevolg van die ander persoon. Met ander woorde, jy is bang dat daardie persoon dit van jou af sal wegneem. Jaloesie word dikwels as sinoniem met afguns beskou. Die verskil is egter dat afguns ’n nouer verband hou met jou verlange om iemand anders se eienskappe, besittings en sukses te hê, met ander woorde om te begeer wat hulle het, terwyl jy wens dat dit by hul ontbreek as gevolg van die afwesigheid daarvan in jou eie lewe. Ter wille van eenvoud sal ons hierdie twee konsepte as vereenselwig beskou in hierdie artikel.


2. Waarskuwingstekens wanneer ’n bepaalde persoon of groep jaloers op jou is.

Wanneer jy in sekere aktiwiteite op skool uitblink, is dit baie waarskynlik dat jy ’n paar mense sal teëkom wat jou daarvoor sal kritiseer. Nie almal sal werklik bedoel om aan jou uiterste skade te veroorsaak nie. Byvoorbeeld, sommige mense mag dalk net jaloers wees op jou goeie akademiese punte omdat hulle wens hulle het harder gewerk om soortgelyke resultate te behaal. Ander mag dalk werklik bedreig voel deur jou goeie punte, aangesien hulle glo dat jy hulle daardeur sleg laat lyk. As gevolg daarvan glo hulle dat jy hul posisie gesteel het om die beste in die klas te wees – selfs al klink dit absurd. In plaas daarvan om deur jou eie akademiese prestasie geïnspireer te word, sal hulle jou tot hul laer vlak bring deur jou sleg te laat voel omdat jy hard gewerk het. Hulle kan selfs tot uiterstes gaan om jou toekomstige kanse vir sukses te saboteer.

Hier is ’n paar maniere waarop jy kan agterkom dat hulle jaloers is en moontlike skade aan jou kan verrig:

  • Om geblameer te word vir onregverdige voorregte of voordele.
    Mense wat jaloers op jou is sal probeer om jou pogings en prestasies te verkleineer deur dit toe te skryf aan blote geluk of talent waarmee jy gebore is en nie in die eerste plek eintlik verdien om te hê nie – aangesien hulle ’n tekort aan talent en toewyding het om aan hul vaardighede te werk. As hulle nie in ’n welgestelde gesin gebore is nie, sal hulle byna sekerlik die verskoning gebruik dat jou ouers welaf is en dus afrigters ens. kan bekostig wat jou gehelp het om beter as hulle te presteer. Hulle sal hul mislukkings op jou ouers blameer, omdat hulle betrokke is by jou lewe en vir jou die nodige aandag en ondersteuning gee sodat jy aan jou vaardighede kan werk. Hulle sal ook probeer om die onderwysers, tutors en afrigters te blameer, omdat hulle jou bevoordeel, spesiale aandag aan jou gee en wenke met jou deel wat jou help om hulle te wen.


  • Deur gedreig te word deur mededingers of niksdoeners.
    Jaloerse mense kan so vêr gaan as om vir jou te sê dat jy nie weer beter as hulle mag presteer of na klasse of lesse gaan nie, anders sal daar gevolge wees… Dit impliseer dat as jy dit doen, sal hulle ernstige stappe neem om te verhoed dat jy dit weer sal doen in die toekoms.


  • Deur geboelie te word deur verbale of fisiese mishandeling.
    ’n Paar insidente waar daar name genoem is in die klas, bv. om vir ’n slim jong seun ’n “boekwurm” te noem, kan vererger in voortdurende dreigemente in die gange en uiteindelik eindig met ’n gewelddadige daad na skool. Dit kan moontlik ’n bloedige neus en gebreekte ribbes a.g.v. ’n groepaanval insluit. Mense onderskat dikwels die feit dat wanneer boelies nie ’n onmiddellike reaksie of meer plesier uit ’n spesifieke aksie kry nie sal hulle die intensiteit van hul aanvalle verhoog.


3. Die verskillende soorte jaloesie en hoekom dit gebeur.

Voordat ons maniere kan kry om jaloerse mense te hanteer, moet ons verstaan waarmee ons werklik te doen het.

  • Materiële jaloesie.
    Materiële jaloesie ontstaan wanneer kinders ontdek dat nie almal dieselfde lewenstandaard of lewensgehalte as hulle het nie en dus te begeer hulle wat ander het. Sommige kinders is geseën om in baie ryk families gebore te wees. Sommige is hoër-middelklas of laer-middelklas. Dan aan die ander kant van die spektrum, is sommige baie arm. Jaloesie kan by al hierdie klasse ontstaan. Om te leef in ’n samelewing wat baie materialisties en verbruikersgedrewe is, help nie jong kinders se wêreldbeskouings nie. Die kinders wat uiters ryk is, vergelyk hulself met ander welgestelde kinders. Net wanneer jy dink jy het alles, word iets nuuts op die mark bekendgestel en as jy dit nie eerste kry nie, is jy slegter af. Die middelklasse kyk na die hoër-klasse se lewenstandaard. Hulle kan uiters mededingend onder mekaar wees. Byvoorbeeld, wanneer hul ouers ’n salarisverhoging gekry het en vir hulle duur nuwe speelgoed en klere gekoop het, is hulle gretig om met dit te spog. Is dit nie logies vir ’n arm kind, wat bitter min of amper niks het, om dit wat ander mense het te begeer nie?


    Dit is maklik om ander mense se besittings te begeer as dit jou hooffokus in die lewe is. Daar is niks verkeerd om jou lewenstandaard te verbeter deur hard te werk nie. Ongelukkig, wanneer gierigheid en jaloesie betrokke is, kan dit ’n baie gevaarlike speletjie word. As jy rykdom najaag, kan jy uiteindelik so arm wees – dat geld die enigste ding is wat jy eintlik het. Moet nooit ander bedrieg en van hulle te steel om te kry wat jy wil hê nie.

  • Akademiese jaloesie.
    Akademiese prestasies, algemene kennis en algehele intelligensie kan prominente faktore wees vir jaloesie by skoolkinders. Om te leer en eksamens te skryf oor die werk is immers oorwegend waaroor skool gaan. Dit is natuurlik dat nie alle kinders ewe vinnig ontwikkel of ewe slim is nie. Kinders se punte sal verskil volgens vakke. Alhoewel, daar is ’n paar kinders wat konstant in die top 5 van hul klas is vir elke vak.


    As jy iemand is wat goed presteer in jou skoolwerk is dit wonderlik! Ongelukkig gaan moontlik nie al jou eweknieë entoesiasties wees as jy beter as hulle doen nie. ’n Aantal dinge kan verkeerd loop. Hulle mag dalk begin om jou name te noem wat jou sal seer maak. Hulle mag dalk jou boeke en huiswerkopdragte steel. Hulle mag dalk probeer om jou punte te saboteer deur jou valslik van oneerlikheid te beskuldig.

  • Talent of vaardigheid-verwante jaloesie.
    Saam met grootword kom die wonderlike geleentheid vir kinders om hul vermoëns en natuurlike talente te ontdek. Hulle ontwikkel hierdie vaardighede deur hard aan dit te werk en hulself te druk om te sien hoe ver hul perke gaan. Natuurlik, as jy besonder begaafd is met ’n bepaalde vaardigheid, kan sommige kinders jaloers wees daarop as hulle dit nie so goed kan doen nie, of as hulle heeltemal misluk daarmee. Dit gebeur dikwels as hulle sien jy kry ander gee vir jou erkenning vir jou talente en hulle kry nie krediet vir hul eie goeie eienskappe en vermoëns nie.


  • Sosiale jaloesie.
    Almal het ’n inherente behoefte dat mense van hulle moet hou en vir hulle lief moet wees. Dit is deel van wat ons mens maak. Vanuit ’n biologiese perspektief soek babas aandag van hul ouers omdat dit noodsaaklik is vir hul oorlewing – vir voeding en beskerming. Namate hulle ’n bietjie ouer word, leer hulle vaardighede soos praat en speel, wat beteken dat hulle waarde sal heg aan ander verhoudings as net met hul ma en pa. Wanneer hulle hul sosiale kringe uitbrei, sal hulle ook ontdek dat nie alle kinders presies soos hulle is nie. Hulle sal van ander kinders hou, of nie hou nie, op grond van hul ondervinding met hulle. Hulle sal ook besef dat nie almal ewe veel van hulle sal hou nie. Aangesien al hierdie sosiale konstrukte redelik nuut is vir kinders, kan dit tot sosiale drama lei wanneer hulle deur ander vriende verwerp word. Dit word nie noodwendig beter as hulle ouer word nie. Tieners raak net so ontsteld as hulle nie uitgenooi word na ’n vriend se partytjie nie. Netso as ’n ander persoon in die pad staan van ’n bestaande vriendskap. Om nie eers te praat van sosiale jaloesie as gevolg van gewildheid nie!


    As baie mense van jou hou en jy baie ware vriende het, kan ander mense wat nie so bevoorreg is met dieselfde sosiale status as jy, jaloers raak op jou. Jou verhouding met ander kan vir hulle benoudheid veroorsaak, omdat hulle minder geliefd en uitgesluit voel. Hulle glo dat jy moontlike vriende van hulle af wegneem. Dit is ’n baie moeilike situasie om in te wees, want ons weet almal dat skoolkinders baie onvoorspelbaar kan wees. Wie weet tot watter uiterstes jaloerse kinders sal gaan? Die een dag is hulle gaande oor jou, die volgende kan ’n skinderstorie oor jou soos ’n veldbrand versprei. Die dinge wat opgemaak is word net meer sensasioneel na elke periode. Jy kan so al jou vriende verloor.

  • Broer en suster jaloesie.
    Jaloesie tussen broers en susters is baie algemeen. Die ouer een kan maklik voel dat die jonger een meer voorregte het as wat hulle gehad het op dieselfde ouderdom, terwyl die jonger een kan voel dat die ouer een bevoordeel word, omdat hy of sy eerstehands dinge ervaar. Miskien is hulle baie soortgelyk en dus baie mededingend. Die een wil altyd probeer om beter te presteer as die ander. Dit raak regtig kompleks wanneer een waarskynlik slimmer, meer aantreklik of meer gewild is as die ander. Wanneer ouers, onderwysers, vriende en ander eweknieë broers en susters met mekaar vergelyk, help dit nie. Dit verbreed net die afstand tussen die twee.


    Jou broer of suster kan baie antagonisties en kwaadwillig teenoor jou raak as hulle voel dat ander mense jou altyd as meer belangrik beskou. As die probleem nie aangespreek word nie, kan so ’n wrok jare duur – lank na kinderjare.


4. Die effek en gevare wat jaloerse mense op jou het.

Jy kan waarskynlik een of twee ongegronde kommentare oor jou voorkoms, karakter en prestasies weerstaan. Byvoorbeeld, as jy ’n “onnosele sportman” genoem word as jy die skool se ster atleet is, sal dit nie jou soveel ontstel aan die begin nie, veral as dit van nie-sportiewe mense af kom. Dit sal egter begin om jou te pla as hulle aanhou om jou name te noem en dit erger word. Wanneer valse gerugte versprei word, soos dat jy steroïede gebruik om beter te presteer, kan dit jou prestasie in daardie aktiwiteit negatief beïnvloed. Dit is veral erger wanneer dit vanaf ander atlete wat elke dag saam met jou oefen kom. Dit kan selfs veroorsaak dat jy heeltemal ophou. Afhangende of die jaloesie vir jou in haat verander, kan hulle jou selfs dwing om op te hou deur jou mondelings en fisies aan te val. In sulke gevalle kan dit ’n baie traumatiese ervaring wees en baie sielkundige probleme veroorsaak.


Hier is van die effekte en gevare van wanneer jy geteiken word deur mense wat jaloers is op jou:

  • Om ’n swak selfbeeld te ontwikkel.
    Jou selfbeeld kan ’n knou kry as jy voortdurend gekritiseer en aangeval word deur jaloerse mense. Hulle sal enigiets doen om jou af te bring. Selfs al is jy werklik uitstekend in dit wat jy doen en die beskuldigings teen jou is nie waar nie, kan jy begin om in jouself, jou vermoëns en selfwaarde te twyfel. Lees ons blog artikels ‘Hoe om ’n gesonde selfbeeld te ontwikkel’ en ‘5 Wenke om jou selfvertroue binne en buite die klaskamer op te bou’ vir ’n hupstoot in jou selfbeeld en selfvertroue.


  • Om hulpeloos en onbevoeg te voel.
    Jy kan begin dink dat dit nie saak maak hoe goed jy presteer nie. Jy sal nooit goed genoeg of indrukwekkend genoeg wees vir ander om erkenning vir jou prestasies te ontvang nie. Jy mag dalk voel dat daar niks is wat jy kan doen nie en dat daar niemand is om jou te help nie, aangesien niemand dit sal verstaan nie.


  • Om aggressief te raak teenoor eweknieë wat jou boelie.
    Dit is nie maklik as mense jaloers op jou is nie. Hulle sal dit nie maklik erken nie, maar dit wys in hul optrede. Hulle terg jou voortdurend, noem jou name en boelie jou selfs. As jy voel dat almal jou oordeel en teen jou is, kan jou algemene houding verander vanaf gewoonlik kalm na voortdurend opgewerk en kwaad. As jy lank genoeg met sulke negatiewe emosies rondloop, kan dit jou verander om baie opvlammend en aggressief te wees. Jy sal maklik iemand se kop wil afbyt oor die geringste negatiewe opmerking of vorm van kritiek – van almal af, selfs diegene wat jou lief het en goed bedoel.


  • Om eweknieë in ruil te boelie en mondelings of fisies aan te val.
    As jy in ’n situasie is waar jy bedreig voel en/of aangeval word, is daar hoofsaaklik twee maniere om dit te hanteer – veg of vlug. Die voormalige, veg, is ’n besonder algemene reaksie wanneer dinge fisies raak. Met alle middele het jy die reg om jouself te beskerm as jy in gevaar is. Ongelukkig lei weerwraak net tot meer geweld en die probleem word nooit opgelos as daar geen ingryping is nie. Dit kan ook gebeur dat jy eerste die aanval begin, voordat die ander persoon die geleentheid kry om jou aan te val! Later begin jy almal aanval wat net in jou rigting lyk, ten spyte dat hulle jou nooit van tevore aangeval het nie. As hierdie siklus voortduur, verander jou rol vanaf die slagoffer na die boelie.


  • Om geïsoleer te word.
    In die hoop om negatiewe kritiek van eweknieë te vermy, vermy jy hulle letterlik. Jy vermy nie net diegene wat jaloers en gemeen is nie, maar jy wil ook nie met jou vriende, broers en susters, ouers of onderwysers praat nie. Niemand nie. Jy glo dat as jy jouself isoleer, gee jy niemand die geleentheid om iets negatief oor jou te sê nie, daarom kan jy nie seerkry nie.


  • Om ’n verwronge beeld van jou vriende en eweknieë te ontwikkel.
    Jy sal begin om die verhoudings wat jy in jou lewe het, te betwyfel. Is die mense regtig daar omdat hulle van jou hou vir wie jy is, of is hulle net jou vriend vir hul eie persoonlike aanwins? Jy wonder of hulle jaloers op jou is. Sê hulle negatiewe dinge agter jou rug? Hoe lank voordat hulle jou verraai?


  • Om jaloers te raak op ander mense wat goed presteer en nie uitgesluit word nie.
    Boelies teiken sekere geïsoleerde individue wanneer hulle alleen is. Hulle boelie nie lede van ander groepe gelyktydig nie. Boelies kan alleenlopers wees, maar dikwels is hulle self deel van ’n groep of verskeie groepe. As gevolg van die invloed van een of twee spesifieke individue binne daardie groep, oortuig hulle die res van die groeplede volgens dieselfde manier op te tree teenoor hul teikens.


    As jy die teiken is, sal jy bewus wees van die feit dat jy uitgesonder is. Dit gebeur nie met almal nie. Jy voel baie alleen in hierdie situasie. Jy kan moontlik ander mense wat nie geteiken word nie te verwyt – veral as hulle soortgelyke eienskappe, belangstellings en status as jy het. Wat maak hulle so spesiaal dat hulle vrygestel word van dieselfde swaarkry as jy? Jy kan selfs jaloers raak op hulle. Hoe doen hulle dit alles terwyl dit blyk asof dit geen moeite van hul verg nie?

  • Om geestelik ineen te stort en depressief te voel.
    Wanneer jy uitgesonder word deur mense wat jaloers op jou is en hulle voortdurend probeer om jou lewe moeilik te maak, sodat hulle jou kan afbreek, kan jy dit net vir so lank weerstaan. As jy alleen is, nie baie ware (of geen) vriende het nie en nie hulp kan kry vanaf ander eweknieë, ouers of onderwysers nie, word jy in ’n baie gevaarlike posisie geplaas, aangaande jou geestesgesondheid. Jy kan ’n geestelike ineenstorting kry en depressief raak. Dit is nie ’n eenvoudige saak nie. Lees ons artikel ‘Sien die tekens van nood in tieners raak en hoe om hul sielkundige welstand te verseker’ as jy aan stress, angstigheid en depressie lei.


  • Om op te gee op jou akademie en tydverdryf aktiwiteite – en uiteindelik om jou lewe te leef.
    As jy ’n geestelike ineenstorting ervaar het en depressief is oor jou omstandighede, sal jy uitgeput en geestelik gedreineer wees. Jy sal nie dieselfde dryfkrag hê as wat jy eens gehad het om jou doelwitte en drome te bereik nie. Deelname aan sport- en kultuuraktiwiteite sal iets van die verlede wees. Jou gedagtes sal ook nie helder wees om op akademie te fokus nie. Lees ons artikel genaamd ‘Wat behels ’n gesonde en gebalanseerde leefstyl?’ om jouself daaraan te herinner om nie jou akademie en ander aktiwiteite waarvan jy hou op te gee as gevolg van dit wat ander mense daarvan sê nie. Dit is belangrik vir jou om ’n diverse, gesonde lewe te lei.


5. Doen ’n mate van introspeksie.

Introspeksie beteken “om na binne te kyk”. Introspeksie behels om na te dink oor jou eie optrede, daaroor te besin en jou emosies daaroor te ontleed. Dink oor jouself en oor hoe jy in hierdie situasie beland het. Wanneer het dit begin en wat kon moontlik bydra het tot dit? Het jou houding op ’n sekere tyd hulle die indruk gegee dat jy dink jy is beter as hulle en jy kyk neer op hulle? Wees eerlik, as jy dit gedoen het en/of voortgaan om op hierdie manier op te tree, is jy verkeerd en moet daaraan werk.


Selfs as jy beter presteer as jou eweknieë, moet jy nooit dink dat jy “onoorwinbaar” is nie. Jy kan dus nie net doen en sê wat jy wil hê. As jy dit doen, sal jy vir hulle net ’n rede gee om nie van jou te hou nie en dus sal hulle negatiewe dinge oor jou sê. Onthou, daar sal altyd iemand wees wat beter is met ’n spesifieke aktiwiteit as wat jy is. Dink daaroor. As jy tweede teen hulle kom, wat dalk vir jou kan voel asof jy verloor het, hoe sal jy deur hulle behandel wil word? Jou eweknieë het hul eie talente en belangstellings waarin hulle meer geneig is om te presteer. Net omdat jy nie daarvan hou om dit te doen nie, maak dit nie minder belangrik nie. Prys hulle daarvoor.

Wees gegrond en dankbaar vir die geleenthede wat jy in die lewe gegee is. Ja, jy het ongelooflik hard gewerk daarvoor, maar jy is nie gewaarborg om sukses te behaal in die toekoms nie. Soms werk die lewe net nie uit soos jy beplan het nie. As jy per ongeluk ’n been breek, sal jy nie die wedloop kan hardloop nie. As jy ’n verkoue kry voor ’n sang optrede, sal jy nie eers ’n noot uitkry nie. As jy nie die aand voor jou finale eksamen geslaap het nie, sal jy nie helder kan dink wanneer jy die vrae moet beantwoord nie. Al het jy voorheen alles gegee, het omstandighede net so uitgewerk dat jy ongelukkig misluk het. Jy sal op jou laagste wees, want jy weet jy kan beter doen, alhoewel nie almal anders dit weet nie. Daarom sal jy vriende en ’n ondersteuningsgroep wil hê. Jy sal dankbaar wees dat jy respekvol en ondersteunend teenoor hulle was. Wanneer hulle deur ’n rowwe tyd gaan, moenie hulle verlaat of erger laat voel as wat hulle alreeds doen nie. Jy weet nooit wanneer jy hul ondersteuning gaan benodig as jy deur iets soortgelyk gaan nie.

Jou introspektiewe antwoord hoef ook nie altyd tot die gevolgtrekking te kom dat dit jou skuld is nie. Soms gebeur hierdie dinge en dit is buite jou beheer. Dit is egter goed om daaroor te dink vanuit verskeie oogpunte.


6. Besin oor watter aktiwiteite jou jaloerse eweknieë doen (of nie doen nie).

Vra jouself af aan watter aktiwiteite jou jaloerse eweknieë deelneem. Vergelyk dit met jou eie en weeg dit op. As hulle nie buitemuurse aktiwiteite doen wat soortgelyk aan joune is nie (of niks doen nie), kan hulle jaloesie nie na jou gerig word omdat jy beter as hulle nie, omdat hulle nie hulself die geleentheid het om teen jou te kompeteer nie. Die rede vir hul jaloesie teenoor jou kan verband hou met iets anders as jou talente en vaardighede. Miskien is dit jou finansiële posisie of dalk is hul negatiewe reaksies as gevolg van iets anders.

As hulle wel deelneem aan buitemuurse aktiwiteite of hul skoolwerk ernstig opneem, bepaal of hulle net een ander aktiwiteit of verskeie aktiwiteite doen. As hulle baie doen, sal hulle nie ewe goed in elkeen wees nie. Miskien fokus jy net op een en spandeer meer tyd om daardie vaardighede te beoefen. So kon jy hulle daarmee klop of hul plek in die span inneem. Vra jouself hoeveel tyd en moeite bestee hulle eintlik daaraan. As hulle net op een aktiwiteit fokus en jy hulle daarin geklop het of hulle hul posisie in die span gekos het, sal hulle waarskynlik meer ontsteld wees, want daardie aktiwiteit is hul hele wêreld. Miskien is jy net ’n bietjie beter daaraan en hulle het nie geleer hoe om teleurstelling te hanteer en hul emosies te beheer nie. Dit is nie jou skuld dat jy deelneem en jou bes doen nie.

Is jou aktiwiteit iets wat vanself as begeerlik beskou kan word, soos ruiterkuns of skermkuns, omdat mens ’n bietjie meer geld benodig om dit te doen en/of dit nie maklik toeganklik is nie?

As sulke jaloerse mense wel uitstekend presteer, maar is pronkerig, trots en word ongelooflik bedreig deur enigiemand wat hul titel moontlik kan wegneem, het hulle ’n groot sielkundige probleem.


7. Praat met die spesifieke jaloerse individu(e) om konflik op te los.

Een van die maniere om die kwessies rakende ’n jaloerse persoon aan te spreek, is om hulle regstreeks te konfronteer. Jy sal die situasie baie fyn moet hanteer, aangesien hulle dit waarskynlik nie sal verwag nie en die situasie kan baie maklik skeef loop.

Nooi hulle uit om op ’n bepaalde tyd en plek met jou te praat. Besluit op ’n goeie plek gedurende die dag. Moenie hulle aanspreek in ’n groepsituasie waar hul vriende deel van die gesprek kan raak nie. Vra hulle om weg te tree om ’n privaat gesprek te hê, alhoewel jou en hulle vriende naby kan wees. Moenie ’n plek kies wat afgesonder of buite bereik van ander mense is nie, indien jy verbaal of fisies aangeval word en onmiddellik hulp moet kry.

Berei vooraf vir die gesprek voor. Neem ’n paar aantekeninge in jou gedagtes van punte wat jy graag wil aanspreek. Wees ferm maar hoflik oor die situasie en moenie hulle ook name noem of hulle aanval nie. Jy wil die probleem oplos, nie brandstof op die vuur gooi nie.

As jy noem dat hulle jaloers is mag hulle aanvanklik dit ontken. Hulle sal ontsteld wees dat jy bewus daarvan is dat hulle jaloers is en die vrymoedigheid het om daaroor te praat. Noem egter spesifieke insidente en gebeure om jou stellings te grond. Sê vir hulle hoe dit jou laat voel.

Jy kan die atmosfeer verlig deur aan hulle te verduidelik dat almal hul eie unieke talente het. Al is daar iets waaroor julle in kompetisie is met mekaar, is daar dinge wat hulle kan doen wat jy nie kan nie. Jy kan noem dat dit beter is om vriende te wees, omdat julle alreeds soortgelyke belangstellings het. Noem die eienskappe wat hulle het wat jy bewonder. Dit is nie nodig om mekaar te vergelyk of ’n wedywering te begin wanneer julle teen mekaar meeding nie. Laat weet hulle dat dit nie ’n persoonlike aanval op hulle is nie, byvoorbeeld wanneer jy hul plek in die span geneem het of die kompetisie gewen het. Jy het slegs hard gewerk en jou bes gedoen. Jy sal bly wees vir hulle as hulle gewen het, want op die ou end wil jy hê dat die beste persoon moet wen. As jy bereid is om ’n vriendskap met hulle te bou, stel voor dat julle saam begin oefen of bied aan om hulle te help met ’n oefenprogram en ’n paar wenke.

Vra dat hulle jou gevoelens in ag sal neem in die toekoms. Selfs as julle wegstap en nie weer met mekaar praat nie, kan julle mekaar met wedersydse respek behandel.


8. Kry ander persone betrokke of soek professionele hulp wanneer dinge handuit ruk.

Nadat jy met die individue gepraat het wat jou angstigheid veroorsaak en hulle steeds nie in hul gedrag verbeter het nie, moet jy leiding van jou ouers, onderwysers en die skoolsielkundige kry. Jou ouers en/of skool kan hulle ouers kontak om hul bewus te maak van die situasie. Hul ouers kan met hul praat en dissiplineer. Onthou dat in sommige gevalle, “om uit te praat” kan veroorsaak dat hulle selfs meer antagonisties teenoor jou optree.

As die situasie ’n punt bereik waar die aanvalle en afknouery gewelddadig geword het, moet jy leiding kry van professionele persone, soos prokureurs, wat jou regmatig kan help om dit op te los.


9. Fokus op jouself en jou vaardighede. Jy kan nie almal tevrede stel nie.

Sommige mense het ’n jaloerse aard. Hulle is ontevrede met hulself en het dieper onderliggende persoonlike sake om aan te spreek. Jy kan nie hulle help nie en as hulle nie bereid is om hul foute te erken en daaraan te werk nie, sal hulle waarskynlik nie verander nie. Jy moet op jouself fokus, ten spyte van negatiwiteit rondom jou. Jy hoef nie bang te wees om weg te breek vanaf sekere vriendskappe nie. Jy hoef ook nie in te pas by die res nie. Onthou: “Die een wat die skare volg, gaan gewoonlik nie verder as die skare nie. Diegene wat alleen loop, sal waarskynlik hulself vind op plekke waar niemand voorheen was nie.” ~ Anoniem.

  • Fokus op die positiewe.
    Hou jou fokus op die vriende en familie wat jou ophef en jou doelwitte en drome ondersteun. Moenie ophou om die aktiwiteite waarvoor jy lief is te doen net omdat ander mense jaloers is op jou prestasies nie. Dit is al wat hulle wil hê – om jou af te bring. Bemeester jou vaardighede en bewys al jou kritici verkeerd.


  • Weerhou negatiwiteit.
    Wanneer jy op die negatiewe fokus, sal jy negatief raak en dit kan jou prestasie en gelukkigheid beïnvloed.


  • Betoon dankbaarheid.
    Wees dankbaar vir al die geleenthede wat aan jou gegee is. Kompeteer en gee jou bes in alles wat jy doen. Moet nooit terughou of om verskoning vra vir wie jy is nie.



10. Inspireer ander om hul doelwitte in die lewe na te streef.

Die skilder, kunstenaar en geestelike onderwyser, Satsuki Shibuya, het gesê: “Deur te doen waarvoor jy lief is inspireer jy die harte van ander.” Jy moet altyd jou beste gee, ongeag die omstandighede. Wanneer jy jou bes gee, sal jy ander aanmoedig en inspireer om ook hul drome na te volg. Die hoeveelheid mense wat jy sal inspireer, sal veel meer wees as die hoeveelheid mense wat bitter, afgunstig en jaloers is op jou prestasies.

© Kopiereg Afrikaanse Skoolprojekte. Alle regte voorbehou. Alle inligting hierin is die intellektuele eiendom van Afrikaanse Skoolprojekte en is beskerm deur die wet, insluitend maar nie beperk tot kopieregwetgewing nie. Geen inligting mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie. Afrikaanse Skoolprojekte behou verder die reg voor om enige toestemming te onttrek indien ons van mening is dat die gebruiker enige voorwaardes waaronder toestemming gegee is oortree. Uittreksels en skakels mag gebruik word, mits volledige en duidelike krediet aan Afrikaanse Skoolprojekte gegee word, met toepaslike en spesifieke aanduiding na die oorspronklike inhoud. As prente gebruik word, mag ons watermerk nooit afgesny of verwyder word nie. Ons moedig ons lesers aan om ons artikels via e-pos en sosiale media netwerke te deel deur middel van ons skakels. Sien asseblief ons Bepalings en Voorwaardes as jy onseker is oor die gebruik van ons materiaal.

HET JY VAN DIE ARTIKEL GEHOU?

As jy van hierdie artikel gehou het, teken in op ons nuusbrief. Jy sal gratis waardevolle advies en wenke ontvang om jou kinders se akademiese prestasie 'n hupstoot te gee.


LEWER KOMMENTAAR

Ons wil graag hoor wat jy dink. Lewer kommentaar op hierdie artikel.

  • Jou persoonlike kontakbesonderhede sal nie gepubliseer word nie, slegs jou naam.
  • Ons streef daarna om deursigtig te wees. Alle negatiewe resensies of positiewe kritiek sal gepubliseer word.
  • Jou terugvoering sal hersien word vir enige ontoepaslike taalgebruik voordat dit gepubliseer word.

SOORTGELYKE ARTIKELS

HOE OM ’N GESONDE SELFBEELD TE ONTWIKKEL

Jou selfbeeld beïnvloed die besluite wat jy maak, die verhoudings wat jy het en uiteindelik die pers...

Lees

5 WENKE OM JOU SELFVERTROUE BINNE EN BUITE DIE KLASKAMER OP TE BOU

Het jy geweet daar is kragtige wetenskaplike maniere waarop jy dadelik meer selfvertroue kan verkry?...

Lees
Terug na blog

Ontwikkeling en Bediening: Resolve Technology Solutions

Ontwerp en SEO: Avelantis

© Kopiereg 2003 - 2024 Afrikaanse Skoolprojekte. All Regte Voorbehou.
Geen inligting of dokument mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie.