OMRING JOUSELF MET VRIENDE WAT OOK STREWE NA SUKSES

Maandag, 10 September 2018

Deur Afrikaanse Skoolprojekte

Waarom jy vriendskappe wat jou onder groepsdruk plaas moet vermy.

blogImage

Om die regte vriende te kry wanneer jy op skool is, kan moeilik en ’n bietjie beangstigend wees. Op skool word jy toegewys aan ’n spesifieke klaskamer en dit kan ’n groot impak op jou sosiale kring hê. Soms raak jy vriende met mense en besef dalk een of ander tyd dat jy af voel of dat jou selfbeeld afgeknou is. Dit beteken dat jy nie omring word met opbouende en positiewe mense nie en jy sal dalk ’n verandering in jou vriendegroep moet maak. Om meer oor selfbeeld te verstaan en jou selfvertroue op te bou, kyk na ons volgende blogs:

Hoe om ’n gesonde selfbeeld te ontwikkel.’
5 Wenke om jou selfvertroue binne en buite die klaskamer op te bou.’


Die soort vriendskappe wat jy nodig het vir ’n gelukkige en suksesvolle skoolloopbaan:
1. Hoekom jy jouself moet omring met vriende wat ook streef na sukses.
2. Hoekom jy vriendskappe wat jou terneerdruk moet vermy.
3. Hoe om jouself te omring met opheffende vriende.


1. Hoekom jy jouself moet omring met vriende wat ook streef na sukses.

Beroemde motiveringspreker Jim Rohn het eenkeer gesê: “Jy word soos die vyf mense met wie jy die meeste tyd spandeer. Kies versigtig.” Dit beteken dat as jy soos die vyf mense word met wie jy die meeste van jou tyd spandeer en vier van die vyf mense is altyd negatief, veroordelend en pessimisties is, sal jy waarskynlik ook negatief, veroordelend en pessimisties word. As jy egter jou tyd spandeer met positiewe, entoesiastiese en optimistiese vriende, sal jy ook positief, entoesiasties en optimisties word.

Hierdie stelling hou sterk verband met die konsep genaamd ‘Die Wet van Gemiddeldes’. Die Wet van Gemiddeldes sê dat die waarskynlikheid van sekere gebeure toeneem as die gereeldheid daarvan toeneem. As jy dus die hoeveelheid tyd (gereeldheid) wat jy met mense spandeer wat eienskappe het wat jy verlang verhoog, sal jy uiteindelik daardie eienskappe optel en soos dié mense word.

’n Studie wat deur sielkundige wetenskaplikes Catherine Shea, Gráinne Fitzsimons en Erin Davisson van die Duke-universiteit in ‘Psychological Science’ gepubliseer is, ondersteun die stelling dat die soort vriende wat jy het, ’n baie groot impak het op jou langtermyndoelwitte. Hulle sê dat mense met lae selfbeheersing baie van hul selfbeheersing-stryd kan verlig deur by individue te wees wat hoë selfbeheersing het. Dit is te danke aan die feit dat die persoon met lae selfbeheersing geïnspireer sal word deur ’n vriend met hoë selfbeheersing en op hul selfbeheer-aanwysings optel om hul eie gedrag aan te pas.

Dit is dus baie belangrik om jouself te omring met hierdie soort mense wat jy bewonder en wie jou inspireer. Dit beteken nie dat jy ophou om vriende te wees met iemand as hulle nie perfek is nie. Dit beteken eenvoudig dat jy moet oplet met wie jy die meeste van jou tyd spandeer en hoe dit bydra tot jou lewe. As jy sterk genoeg is kan jy die persoon word wat ander inspireer en help.


2. Hoekom jy vriendskappe wat jou terneerdruk moet vermy.

Dit is duidelik dat ons vriende ’n groot deel vorm van wie ons is, maar dit geld ook vir ons broers en susters, ouers en familie. Ons sal meer soos die mense word met wie ons die meeste van ons tyd spandeer. Daarom kan ons minder tyd spandeer met mense wat ’n swak invloed op ons selfbeeld, akademiese prestasie, motivering en selfbeheersing het.

Ons wil jou daaraan herinner dat almal ‘af’ dae of omstandighede het wat hulle hartseer en negatief maak. Voordat jy net mense uit jou lewe sny omdat hulle negatief voorkom, evalueer die verhouding noukeurig en hê deernis met ander se omstandighede.

Byvoorbeeld, as jy ’n vriend gehad het wat die afgelope tyd baie negatief was, evalueer die situasie deur jouself die volgende vrae te vra:

  • Is hierdie vriend altyd negatief, of is daar iets spesifiek wat hom/haar ontstel? Bv. miskien is daar ’n krisis by die huis, of ’n aanstaande toets wat stres kan veroorsaak.
  • Is hierdie negatiwiteit iets wat uiteindelik sal verbygaan? Bv. miskien is ’n troeteldier oorlede en jou vriend werk steeds deur die verlies, maar uiteindelik sal die pyn en hartseer genees en verbygaan.
  • Vermoed jy dat daar iets is wat jou vriend pla wat hy/sy nie nou met jou wil deel nie? Bv. jou vriend kan simptome van depressie aandui of jy kan oplet dat iets verkeerd is. Dit kan beteken dat hy/sy skaam is oor die situasie waarin hul tans hul bevind en wil nie ’n las wees nie.
  • Is daar iets wat jy kan doen om te help? Bv. miskien het jou vriend ’n toets gedruip en het baie negatief daaroor begin geraak, jy kan help deur jou notas te deel of sekere huiswerk te verduidelik.


Wanneer jy jou vriend se negatiwiteit geëvalueer het en jy tot die gevolgtrekking gekom het dat die negatiwiteit weens ’n spesifieke gebeurtenis of omstandigheid is wat vir hom/haar stres en hartseer veroorsaak, dat dit uiteindelik verby sal gaan en dat jy hul kan help, dan kan jy aflei dat hierdie persoon gewoonlik positief en opbouend is. Daar is geen rede om hierdie vriendskap te beëindig nie en jy moet eerder meer tyd in hierdie vriendskap belê om ondersteuning te bied en jou vriend te help. As jy egter aflei dat hierdie vriend se negatiwiteit nie verband hou met omstandighede of gebeurtenisse nie, is hy/sy meestal negatief, en hy/sy wil nie hulp hê nie, dan is dit dalk net ’n slegte gewoonte om pessimisties te wees en jy behoort te oorweeg om minder tyd met hom/haar te spandeer. Dit beteken nie dat jy ’n vriendskap op ’n nare manier moet beëindig nie. Dit beteken bloot dat jy jouself moet beskerm om negatief te raak. Jy behoort minder tyd saam met hom/haar te spandeer.


Die volgende kenmerke moet rooi ligte wees dat jy dalk nodig het om ’n vriendskappe te beëindig:

  • Vriendskappe wat teen jou kernwaardes strek, byvoorbeeld eerlikheid. As jy vriende het wat lieg en bedrieg, moet jy nie sleg voel om so ’n vriendskap te beëindig nie.
  • Vriende wat ontelbare kere jou in die moeilikheid kry. Dit is baie moeilik om op skoolwerk te konsentreer en jou weddenskap uit te voer wanneer jy die heeltyd in die moeilikheid is by onderwysers. Dit kan ook die verhouding met ’n onderwyser benadeel asook stremming op die verhouding met jou ouers plaas, indien die skoolhoof hulle moet kontak om hulle te vertel oor jou swak gedrag.
  • Vriende wat selfgesentreerd of narcisties is. Dit beteken dat hierdie vriende nie dieselfde moeite sal plaas in die vriendskap as wat jy doen nie. Hulle sal jou ook nie ondersteun in jou persoonlike doelwitte nie, aangesien hulle net omgee oor hulself.
  • Vriende wat jou blameer vir hul eie tekortkominge of ongelukkige omstandighede. Vriende wat jou die skuld gee as hulle nie sukses behaal nie of jou in die moeilikheid laat beland, is nie regte en ware vriende nie.
  • Pretensieuse vriendskappe, waar hulle swak oor jou agter jou rug praat, is nog ’n rooi lig waarvoor jou moet uitkyk om dalk die vriendskap te beëindig.
  • Jaloerse vriende is giftig vir jou geestesgesondheid. Jy moet probeer om weg te bly van vriende wat jaloers op jou is. Om jaloesie te verstaan en hoe om jaloerse vriende te hanteer, lees ons blog ‘Hoe om jaloesie van eweknieë te verstaan en oorkom’.
  • Vriende wat jou die hele tyd afbring. Vriende wat jou beledig, jou foute optel of jou swakhede uitwys, is nie vriende wat die moeite werd is om te hou nie.


Identifiseer die vriendskappe in jou lewe wat jou laat sleg voel oor jouself, wat nie goed is vir jou geestesgesondheid nie en vriende wat nie jou doelwitte ondersteun nie. As jy dit gedoen het, bepaal hoe jy in die toekoms met hierdie vriende sal te werk gaan. Besluit of jy minder tyd saam met hulle moet spandeer of selfs die vriendskap heeltemal moet beëindig. Besluit of jy regtig hierdie slegte vriende as kennisse wil hou of nie. Jy kan net minder tyd spandeer met sekere vriende, aangesien mense uiteindelik uit vriendskappe groei. Of as giftige vriendskappe jou selfbeeld negatief beïnvloed, moet jy dit dalk beëindig deur direk met hulle te praat en jouself aan hulle te verduidelik.



3. Hoe om jouself te omring met opheffende vriende.

Jack Canfield het gesê: “Maak ’n bewuste poging om jouself te omring met positiewe, voedende en opbouende mense – mense wat in jou glo, jou aanmoedig om jou drome na te streef en wat jubel oor jou oorwinnings.” Canfield beskryf die soort vriende wat ons almal wil hê. Die soort vriende wat jou help groei, in jou drome glo en jou oplig. Die vraag is egter hoe vind ons vriende soos hierdie? Nie al die eienskappe wat jy soek in ’n vriendskap sal in een persoon voor kom nie. Jy moet dalk ’n paar verskillende vriende, in verskillende groepe en met verskillende belange, vind. Omring jouself met die volgende soort mense en maak vriende met hulle:

Omring jouself met mense wat jou inspireer.
Mense wat jou inspireer, beskik oor kwaliteite of eienskappe wat jy wil hê. As jy na hul lewens kyk, word jy ook geïnspireer om soos hulle te wees. Dit is ’n persoon wat ouer of meer suksesvol is as jy, iemand by wie jy kan leer.

As jy meer intelligent wil word en beter in jou akademie wil doen, maak vriende met die slim kinders, vra vir hulle vrae, leer saam met hulle en komplimenteer hul kennis. Die meeste slim mense gee nie om om hul kennis te deel nie en jy kan dalk net moeilike vakke begin geniet. Hierdie manier om vriende te kies kan toegepas word op enige aktiwiteit waarin in wil verbeter – sport, musiek, kuns, besigheid, ens.

Omring jouself met die mense wat jou uitdaag.
Vriende wat jou uitdaag, is groot motiveerders vir jou om meer suksesvol te wees en om jou doelwitte te bereik. Dit is waarom die meeste liggaamsbouers ’n oefenmaat het. ’n Goeie oefenmaat sal vir jou vertel om nog een opstoot te doen, vinniger te hardloop, hoër te spring. ’n Goeie oefenmaat sal jou aanmoedig om jou bes te doen en jou perke uit te daag. Vind vriende wat soos ’n goeie oefenmaat is, vriende wat jou druk om beter in toetse te doen, jou uitdaag om beter in sport te doen, wat die regte druk op jou plaas sodat jy jou beste in elke aspek van jou lewe kan gee. Vind vriende wat lief is om jou te sien wen.

Omring jouself met die mense wat jou ophef.
Mense wat jou ophef laat jou die meeste van die tyd goed voel. Dit kan wees om jou te laat lag, jou te troos wanneer jy hartseer voel of jou help om jou probleme op te los. Vind mense wat jou laat goed voel oor jouself en jou veilig in die vriendskap laat voel. Hierdie vriende is dalk nie altyd die slimste of die suksesvolste nie, maar die soort vriende by wie jy gelukkig en optimisties voel oor die lewe.

Wees die soort vriend wat jou inspireer, uitdaag en ander ophef.
Ons wil jou aanmoedig om vriende te kry wat jou inspireer, uitdaag en ophef. Jy moet egter ook die soort vriend wees wat jou vriende sal inspireer, uitdaag en ophef. Maak die poging om jou vriende te help, inspireer om hul doelwitte te bereik en hulle uit te daag om beter te wees. As jy goeie vriende wil hê, moet jy ook ’n goeie vriend wees. As jy jou vriende wil inspireer, moet jy hulle ook inspireer. As jy vriende wil hê wat jou ophef, moet jy hulle ook ophef. Dit is hoe jy betekenisvolle vriendskappe bou, deur die soort vriend te word wat jy wil hê. Soortgelyke soorte trek immers mekaar aan.


Ons hoop dat jy geïnspireer is deur hierdie blog om ’n goeie vriend te wees en ook vriende te vind wat goed vir jou is. Onthou om hierdie artikel met jou vriende te deel en hulle te help om ook beter vriende te word.

© Kopiereg Afrikaanse Skoolprojekte. Alle regte voorbehou. Alle inligting hierin is die intellektuele eiendom van Afrikaanse Skoolprojekte en is beskerm deur die wet, insluitend maar nie beperk tot kopieregwetgewing nie. Geen inligting mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie. Afrikaanse Skoolprojekte behou verder die reg voor om enige toestemming te onttrek indien ons van mening is dat die gebruiker enige voorwaardes waaronder toestemming gegee is oortree. Uittreksels en skakels mag gebruik word, mits volledige en duidelike krediet aan Afrikaanse Skoolprojekte gegee word, met toepaslike en spesifieke aanduiding na die oorspronklike inhoud. As prente gebruik word, mag ons watermerk nooit afgesny of verwyder word nie. Ons moedig ons lesers aan om ons artikels via e-pos en sosiale media netwerke te deel deur middel van ons skakels. Sien asseblief ons Bepalings en Voorwaardes as jy onseker is oor die gebruik van ons materiaal.

HET JY VAN DIE ARTIKEL GEHOU?

As jy van hierdie artikel gehou het, teken in op ons nuusbrief. Jy sal gratis waardevolle advies en wenke ontvang om jou kinders se akademiese prestasie 'n hupstoot te gee.


LEWER KOMMENTAAR

Ons wil graag hoor wat jy dink. Lewer kommentaar op hierdie artikel.

  • Jou persoonlike kontakbesonderhede sal nie gepubliseer word nie, slegs jou naam.
  • Ons streef daarna om deursigtig te wees. Alle negatiewe resensies of positiewe kritiek sal gepubliseer word.
  • Jou terugvoering sal hersien word vir enige ontoepaslike taalgebruik voordat dit gepubliseer word.

SOORTGELYKE ARTIKELS

HOE OM ’N GESONDE SELFBEELD TE ONTWIKKEL

Jou selfbeeld beïnvloed die besluite wat jy maak, die verhoudings wat jy het en uiteindelik die pers...

Lees

5 WENKE OM JOU SELFVERTROUE BINNE EN BUITE DIE KLASKAMER OP TE BOU

Het jy geweet daar is kragtige wetenskaplike maniere waarop jy dadelik meer selfvertroue kan verkry?...

Lees
Terug na blog

Ontwikkeling en Bediening: Resolve Technology Solutions

Ontwerp en SEO: Avelantis

© Kopiereg 2003 - 2024 Afrikaanse Skoolprojekte. All Regte Voorbehou.
Geen inligting of dokument mag op enige manier gereproduseer, gekopieer, versprei en/of herverkoop word sonder die skriftelike toestemming van Afrikaanse Skoolprojekte nie.